Sangeres Zahara (36) sterf

Zahara. (Foto: Facebook/Zahara)

Die bekroonde Suid-Afrikaanse Afro-popsanger Bulelwa Mkutukana, welbekend as Zahara, is Maandag in die ouderdom van 36 oorlede.

Zahara is luidens berigte in ʼn Johannesburgse hospitaal dood weens lewerkomplikasies. Haar dood is deur Suid-Afrika se minister van sport, kuns en kultuur, Zizi Kodwa, aangekondig en betreur.

Volgens Kodwa staan die regering die sangeres se familie al “ʼn geruime tyd” by.

“Zahara en haar kitaar het ʼn ongelooflike en blywende invloed op Suid-Afrikaanse musiek,” het Kodwa op X geskryf.

Zahara het in 2011 internasionale bekendheid verwerf met haar album, Loliwe. Sy het intussen vyf vollengte-albums uitgereik en dosyne plaaslike en internasionale musiektoekennings ingeoes. Sy het ook in 2020 die BBC se 100 Women-lys gehaal.

Sy het glo in 2019 ʼn stryd teen alkoholisme oorwin.

Haar familie het egter verlede maand aangekondig sy is in ʼn hospitaal opgeneem en het ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die musikant in hul gebede te hou.

Zahara op die verhoog. (Foto: Facebook/Zahara)

Die familie het nog nie ʼn amptelike verklaring oor Zahara se dood uitgereik nie.

Die African Transformation Movement (ATM) en die vakbond Saftu het in hul onderskeie verklarings die sangeres se dood betreur.

“Die ATM doen ʼn beroep op die nasie om nie net vir Zahara te onthou vir haar musikale bekwaamheid nie, maar ook vir die wyer boodskap wat sy deur haar kuns gelewer het; ʼn boodskap van eenheid, veerkragtigheid en kulturele trots,” lui die verklaring deur die ATM.

“Sy was ʼn musikale genie wat musiek geskep het wat die werklikheid, struwelinge en hoop van mense uit die werkende klas weerspieël het,” het Saftu gesê.

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Delia ·

So talentvol. Mens oorwin nooit die stryd teen alkoholisme. Dis n dag vir dag pad wat jy loop.

Anel ·

Gaan sybnou ‘n staatsbegrafnis kry? Nog nooit van haar gehoor nie. Jammer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.