Sanksies teen ses DRK-rebelleleiers

Brig. Emmanuel Kaputa van die Oos-Afrika Streeksmag (EACRF) skud die hand van Willy Ngoma (links), woorvoerder van die M23-rebellegroep. (Foto: Glody Murhabazi / AFP)

Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad  het sankies teen ses senior lede van gewapende rebellegroepe ingestel wat in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo bedrywig is.

Konflik in dié gebied het die afgelope twee weke skerp toegeneem, en twee Suid-Afrikaanse soldate is vroeër die maand in ʼn mortierbomaanval dood.

Onder die ses rebelleleiers wat vandeesweek by die sanksielys gevoeg is, is Willy Ngoma, ʼn woordvoerder van die M23-rebelle wat bekend is vir video’s waarin hy by gevange Kongolese of Burundese soldate laat poseer.

Die sanksies behels die bevriesing van bates, insluitend in die DRK, en ʼn reisverbod.

Ngoma is die vyfde senior M23-lid teen wie sanksies deur die Veiligheidsraad ingestel is.

Dié Tutsi-rebellegroep is deur die VN en internasionale menseregte-organisasies daarvan beskuldig dat hulle vir massaslagtings verantwoordelik is – onder meer vir gruweldade in die ooste van die DRK.

Ná etlike maande van relatiewe kalmte in die streek het intense gevegte verlede maand rondom die stad Goma, die hoofstad van die DRK se Noord-Kivu-provinsie, opgevlam.

Die DRK, die VN en sommige Westerse lande voer aan Rwanda ondersteun die M23-rebellegroep in die ooste van die DRK in ʼn poging om beheer oor groot minerale reserwes in die streek te bekom. Dit is ʼn aantyging wat Rwanda ontken.

Michel Rukunda, oftewel “Makanika”, is ook by die sanksielys gevoeg. Hy lei die Tutsi-meerderheid gewapende groep Twirwaneho, wat volgens die VN in lyn is met M23.

Rukunda, ʼn droster van die Kongolese weermag, word daarvan beskuldig dat hy deelgeneem het aan die “werwing of gebruik van kinders in gewapende konflik in die DRK” wat “strydig is met toepaslike internasionale reg”.

Die Rwandees Apollinaire Hakizimana, ʼn lid van die Demokratiese Magte vir die Bevryding van Rwanda (FDLR), ʼn oorwegend Hutu-groep wat deur voormalige leiers van die Tutsi-volksmoord in Rwanda tot stand gekom het, is ook op die sanksielys geplaas.

Die FDLR is verantwoordelik vir menige ernstige misdade teen burgerlikes in die Kongo.

Verder is sankies ook teen twee leiers van die ADF (Allied Democratic Forces), ʼn Tanzaniër en ʼn Ugandees, ingestel.

Hul groep, wat met die Islamitiese Staat geassosieer word, was die afgelope tien jaar vir die dood van duisende burgerlikes in die ooste van die DRK en Uganda verantwoordelik.

Sankies is ook ingestel teen William Yakutumba, bevelvoerder van ʼn koalisie van gewapende groepe wat algemeen bekend staan ​​as “Maimai”, weens misdade wat deur sy burgermaglede teen burgerlikes gepleeg is.

Christoph Vogel, ʼn navorser aan die Universiteit van Gent en voormalige VN-kenner van gewapende groepe, het aan AFP gesê die sanksies sal waarskynlik “min impak hê in ʼn konteks soos die Kongo, waar die meeste oorlogsmisdadigers min reis en geen bankrekeninge in die buiteland het nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis veels ingewikkeld vir die ANC, SANDF en Pandor om te verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.