Ses dood toe skote by kinderpartytjie klap

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Adi Goldstein/Unsplash)

Minstens 11 mense, onder wie twee kinders, is Saterdag in twee afsonderlike voorvalle in Meksiko doodgeskiet. Ses mense is by ʼn kinderpartytjie doodgeskiet, terwyl vyf mense van dieselfde familie ure later afgemaai is. Dié voorvalle hou vermoedelik verband met die land se dwelmkartelle.

Volgens owerhede van dié land het ʼn aantal gewapende mans op ʼn groep mense in ʼn huis in die munisipaliteit van Silao losgebrand.

“Hulle het daarin geslaag om drie mans, twee vroue en een kind dood te skiet,” sê owerhede.

Die aanval het glo helder oordag by ʼn kinderpartytjie plaasgevind.

Later dieselfde aand is ʼn verdere vyf mense – almal familie van mekaar – in die munisipaliteit van Apaseo el Grande doodgeskiet.

“Onder die oorledenes is ʼn 14-jarige meisie. ʼn Agt maande oue baba is ook tydens die skietery beseer.”

Die sentrale deelstaat van hierdie land, Guanajuato, het die afgelope tyd van die gewelddadigste gebiede in Meksiko geword weens ʼn voortdurende stryd tussen die Santa Rosa de Lima- en Jalisco New Generatio-dwelmkartel.

Die bendes baklei glo oor die beheer oor die land se winsgewende dwelmhandel- en gesteelde brandstofmark.

Sedert 2006, toe die regering sy omstrede militêre operasie teen dwelms van stapel gestuur het, het Meksiko meer as 300 000 moorde aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herman ·

Meksiko is sterk in tweede plek met aantel moorde. SA nog steeds eerste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.