Ses gevonnis oor brand wat 104 lewens eis

Uitgebrande motors ná ʼn veldbrand in Mati naby Athene (24 Julie 2018) (Foto: Angelos Tzortzinis/AFP)

Byna ses jaar ná veldbrande die lewens van meer as 100 mense geëis het by ʼn Griekse oord, is ses mense Maandag in ʼn hof in Athene skuldig bevind van strafbare manslag en kriminele nalatigheid.

Nie een van die politici, wat van die 21 mense is wat vervolg is, is skuldig bevind nie. Dit het tot groot onsteltenis gelei onder die familielede van die slagoffers wat in die hof teenwoordig was, het plaaslike media berig.

Die ses beskuldigdes – insluitend die voormalige hoof van die brandweer, het opgeskorte vonnisse van tot 111 jaar elk ontvang vir hul rol in die reaksie op die brand wat op 23 Julie 2018 deur Mati versprei het. Die ses persone het boetes van tot €40 000 (byna R80 000) aan die hof betaal.

Die goewerneur van die streek Attica en die burgemeesters van die distrikte in en rondom die kusgemeenskap van Mati, noordoos van die hoofstad, is almal vrygespreek.

“Julle hof is ʼn belediging vir die dooies, die lewendes en die waarheid,” het familielede gesê, in reaksie op die uitspraak. “Daar is geen geregtigheid nie” en “julle het geen skaamte nie” is nog ʼn paar van die reaksies, aldus die openbare uitsaaier ERT. Ander familielede het net gehuil.

“Mens kan hul reaksie verstaan,” het staatsminister Makis Voridis aan Skai TV gesê. “Hierdie tipe vonnis kan nie met hierdie tipe tragedie vergelyk word nie.”

Ioannis Bougas, Griekse minister van justisie, het aan Skai-radio gesê ʼn staatsaanklaer sal “baie waarskynlik” appelleer teen die vonnisse.

Veldbrande wat in Mati ontstaan het, het só vinnig versprei dat mense in hul motors verkool het omdat hulle weens verkeersopeenhopings nie kon vlug nie. Ander het verdrink toe hulle in die see in gehardloop het om die vlamme te ontvlug. Talle wat in die see was, moes ure lank wag voor hulp opgedaag het. Plaaslike vissermanne was eerste op die toneel om te help. Hulle het voor die kuswag en die vloot opgedaag.

“Ons is gelukkig om te lewe,” het een van die oorlewendes aan verslaggewers by die hof gesê.

Altesaam 104 mense is dood en dosyne is beseer.

Die brand het sowat 1 260 hektaar verwoes, het ʼn woordvoerder van die sterrewag in Athene in daardie stadium gesê.

Die voormalige eerste minister Alexis Tsipras het gesê beamptes kon nie betyds ʼn doeltreffende ontruiming reël nie, weens stormsterkte wind van tot 120 km/h. Die polisie en brandweer het egter teenstrydige terugvoer gegee.

Ooggetuies het in daardie stadium gesê dat inwoners nie gewaarsku is oor die dreigende gevaar nie.

In plaas daarvan om verkeer weg te lei van die brande, is talle motoriste per ongeluk in die rigting van die brand gelei en hulle is in Mati se nou strate vasgekeer.

Staatsaanklaers het sake van kriminele nalatigheid aanhangig gemaak teen 21 beamptes van die brandweer, hawepolisie en burgerlike beskerming, asook teen plaaslike owerhede.

Vier senior beamptes, insluitend die voormalige polisieminister Nikos Toskas en verskeie polisiehoofde, het bedank. Brandbestryders is gedwing om te bedank of na poste in ander gebiede te skuif.

Kenners meen swak stedelike beplanning, insluitend ʼn gebrek aan behoorlike toegangsroetes en die oprigting van te veel geboue langs bebosde gebiede het tot die ramp bygedra.

Die regering wat Tsipras se administrasie opgevolg het, het onderneem om sistemiese ontruimingsplanne in te stel sodra veldbrande bevolkte gebiede nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

‘All animals are equal, but some are more equal than others’ – Politicians

Republikein in die Wes Kaap ·

Whisky, toe was Verwoerd, Vorster en PW nog in beheer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.