Sewe babas in een aand stilgebore by hospitaal

Argieffoto (Foto: CoCT via ANA)

Sewe babas is Maandagaand by Harare Central-hospitaal in Zimbabwe stilgebore ná dringende behandeling glo vertraag is weens personeelprobleme.

Aldus ʼn berig deur die uitsaaier BBC staak verpleegpersoneel landswyd en kraamsale is oorweldig. Die personeel staak onder andere oor ʼn gebrek aan persoonlike beskermingstoerusting (PPE) wanneer hulle Covid-19-pasiënte moet behandel.

Zimbabwe se gesondheidsbedryf is onlangs geruk deur ʼn Covid-19-aanskaffingskandaal waar miljoene dollar se kontrakte glo toegeken is om produkte teen verhoogde pryse aan te skaf.

Volgens ʼn berig deur die Anadolu News Agency, is Zimbabwe se minister van gesondheid glo afgedank oor sy beweerde betrokkenheid by die Covid-19-skandaal ter waarde van US$60 miljoen waarby familie van pres. Emmerson Mnangagwa ook betrek word.

Senior spesialisdokters in Zimbabwe het Dinsdag ook amptelik hul dienste onttrek en by die stakende verpleërs aangesluit. Volgens iHarare sal die dokters staak tot dit veilig is om terug te keer werk toe.

Die voortgesette dispuut volg ná die regering geweier het om in te stem tot personeellede se eise vir veiliger werksomstandighede en hoër salarisse. Die dokters eis PPE en wil in Amerikaanse dollar betaal word.

Die afsterwe van die sewe babas is aanvanklik deur dr. Peter Magombeyi op Twitter aangemeld: “Ons is van ons toekoms beroof, insluitend ons ongebore babas. Staak asseblief die geplundery.”

ʼn Dokter, wat die aand van die voorval aan diens was, het gesê agt keisersneë is uitgevoer, maar sewe van die babas is stilgebore. Die BBC berig dat hulp, wat moontlik die babas se lewens kon red, het te laat opgedaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marius ·

En waar is hul menseregte komissie , vroue liga , en beweging teen mishandeling ?

Realis Thailand ·

Soos gewoonlik is my kommentaar verwyder
Julle hou nie van die waarheid
Is julle bang vir die anc

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.