Sikloon Freddy dalk eindelik uitgewoed

(Foto: Twitter)

Die tropiese sikloon wat sedert Februarie aan die kus van Suider-Afrika woed en reeds honderde menselewens geëis het, het oënskynlik verswak en verdwyn.

Hoewel dié sikloon vantevore verswak en later weer versterk het, voer weervoorspellers verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) aan dat dit onwaarskynlik is dat die sikloon weer ʼn oplewing sal beleef.

Wayne Venter, weervoorspeller by die SAWD, het aan Maroela Media bevestig dat die sikloon laat Woensdag oor die sentrale dele van Mosambiek verswak het.

Dít nadat die sikloon grootskaalse verwoesting aan dele van Malawi aangerig het. Die dodetal weens die sikloon in Malawi het vandeesweek tot 326 gestyg. Meer as 400 mense is dood sedert Freddy op 6 Februarie aan die Noord-Australiese kus as ʼn tropiese storm ontwikkel het.

Hoewel die verwoestende reën sedert Woensdag verminder het, heers daar steeds vrese dat Freddy een van die langsdurende tropiese storms ter wêreld sal word. Dit beteken dat die storm dalk nog verder sal voortduur.

Venter sê alle aanduidings is dat dit egter nie die geval sal wees nie.

“Dit is onwaarskynlike dat die storm weer in die Mosambiekkanaal sal versterk, aangesien daar tans ʼn baie laer oppervlaktemperatuur in die see is.”

Die sikloon het aan die einde van Februarie die eerste keer Madagaskar en Mosambiek getref en minimale skade aan Malawi aangerig.

Die storm het terugbeweeg oor die Indiese Oseaan, maar weer versterk weens die warm seewater, voordat dit ʼn ongewone ommeswaai gedoen het en dele van Mosambiek en Malawi vir ʼn tweede keer getref het.

Freddy het bykans 40 dae gewoed voordat dit eindelik bedaar het. Die huidige rekord vir die langsdurende tropiese storm word gehou deur die orkaan John, wat in 1994 vir 31 dae as orkaan gewoed het.

Sodra daar sonder ʼn twyfel gesê kan word dat Freddy hom uitgewoed het, sal die klimaatkundige komitee van die Verenigde Nasies se Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) die data assesseer om te bepaal of ʼn nuwe rekord wel opgestel is, ʼn proses wat maande kan duur.

Intussen spook die owerhede in Malawi om die uitwerking van die verwoesting te verlig. Malawi se president het Woensdag ʼn beroep op internasionale steun gedoen om die land te help om ʼn “nasionale tragedie” te pak.

Meer as 300 noodskuilings is vir die oorlewendes van die storm opgerig, terwyl die weermag en polisie ontplooi is om die krisis te hanteer.

Twee weke van nasionale rou en ʼn noodtoestand is ook in die land afgekondig.

  • Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.