Sikloon Kenneth: Dodetal styg steeds, nóg reën voorspel

Swaar reën val steeds. (AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi)

Die dodetal van sikloon Kenneth wat die noorde van Mosambiek sowat twee weke gelede getref het, het tot 38 gestyg met swaar reën wat steeds in die gebied val.

Sowat 160 000 lewens is in gedrang geplaas toe die tweede sikloon binne die bestek van ses weke dié Afrikaland op 18 April getref het, het owerhede gesê.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat ʼn suidelike Afrikaland deur twee siklone in een seisoen getref word.

Swaar reën val steeds. (AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi)

Meer as 600 mense het omgekom in oorstromings ná sikloon Idai verlede maand en owerhede vrees nou dat ʼn soortgelyke probleem dreig weens sikloon Kenneth, veral aangesien Mosambiek se weerdiens voortgesette reën vir die noordooste van die land voorspel.

Die nasionale instituut vir weerkunde het gesê dié dele van die land sal oor die volgende 24 uur matige tot swaar reën van meer as 50 mm ontvang.

Volgens die plaaslike regering was sikloon Kenneth se oorstromings “kritiek” in dele van die land se noordelike provinsie Cabo Delgado, waaronder die eiland Ibo en die distrikte Macomia en Quissanga, waar meer as 35 000 geboue en huise vernietig is.

Vrywilligers het “algehele verwoesting” beskryf wat sowat 60 km vanaf die kuslyn tot nabygeleë eilande strek. Die stygende waters weens die reën maak paaie steeds onbegaanbaar en belemmer reddingspanne se pogings om gemeenskappe buite die streek se hoofstad, Pemba, te bereik.

Veilige drinkwater het intussen skaars geword.(AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi)

Owerhede berei ook nou voor vir ʼn moontlike cholera-uitbreking, aangesien sommige waterputte besmet is ná sikloon Kenneth. Veilige drinkwater het intussen skaars geword.

Die swaar reën in Pemba veroorsaak ook erge modderstortings. Inwoners van een van die arm woonbuurte in die gebied het Maandag deur die modder na liggame gesoek nadat twee huise oornag weens ʼn modderstorting inmekaargesak het, het inwoner Manuel Joachim gesê.

Vyf mense het in dié modderstorting omgekom.

In ander dele van Pemba probeer sommiges om terug te keer na hul normale lewe te midde van die vernietiging en aanhoudende reën. By ʼn skool het kinders in blou uniforms weer begin skoolgaan terwyl handelaars ware op straatpaadjies en houttafels pak om te verkoop. Ander is besig om rommel uit huise en buitewyke te verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andreas ·

Die natuur praat die afgelope aantal jare al toenemend met ons.

Aster ·

Ek kry hulle jammer, om al jou goed net so te verloor is erg. Ja dis seker alweer die “wittes” wat die sikloor oor Moz gebring het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.