Silvio Berlusconi (86) sterf

Silvio Berlusconi (Foto: Corradetti/LiveMedia/NurPhoto)

Silvio Berlusconi, die omstrede voormalige Italiaanse eerste minister en miljardêr mediamagnaat, is in die ouderdom van 86 dood.

Berlusconi is Vrydag in ʼn hospitaal in Milaan opgeneem vir toetse wat met sy leukemie verband hou.

Berlusconi is net drie weke vantevore uit die San Raffaele-hospitaal ontslaan waar hy ses weke lank behandeling ontvang het. Dokters het gedurende dié tyd ’n seldsame soort bloedkanker by Berlusconi gediagnoseer.

Berlusconi het jare lank met sy gesondheid gesukkel: van hartoperasies in 2016 tot hospitaalbehandeling in 2020 vir Covid-19.

Hy was ten spyte van die terugslae met sy gesondheid verlede jaar tot die Italiaanse senaat herkies en het die amptelike hoof van sy regse Forza Italia-party gebly, ʼn junior – en soms lastige – vennoot in Italiaanse premier Giorgia Meloni se koalisieregering.

Berlusconi het tussen 1994 en 2011 drie termyne (en ’n totaal van nege jaar) as eerste minister van Italië gedien. Sy invloed het egter veel wyer as politiek gestrek weens sy TV-, koerant- en sportbelangstellings én seksskandale.

“Silvio Berlusconi het geskiedenis in hierdie land gemaak,” het voormalige premier Matteo Renzi Maandag gesê.

“Baie was lief vir hom, talle het hom gehaat. Maar almal moet vandag erken dat sy impak op die politieke, maar ook ekonomiese, sport- en TV-lewe ongekend was.”

Berlusconi het hom gedurende sy termyne as messias en martelaar voorgedoen en wydverspreide aanhang gehad. Sy teenstanders het hom egter daarvan beskuldig dat hy wette deurgevoer het om sy eie belange te beskerm.

Berlusconi is ook van korrupsie beskuldig.

Terwyl Italië se ekonomie swaargetrek het, het die selferkende pierewaaier- eerste minister sy berugte “bunga bunga”-partytjies aangebied. Dit het verskeie verhore tot gevolg gehad wat eers onlangs afgehandel is.

Karima el-Mahroug, bekend as “Ruby the Heart Stealer”, het in 2010, toe sy 17 jaar oud was, beweer dat Berlusconi haar betaal het vir seks. Die voormalige eerste minister is later ook daarvan beskuldig dat hy getuies omgekoop het om oor die partytjies te lieg. Hy is uiteindelik vrygespreek.

Berlusconi word oorleef deur sy 33-jarige vriendin, Marta Fascina, twee eksvroue en vyf kinders.

Besonderhede van sy begrafnis is nog nie bekend nie.

Die voormalige eerste minister het wel ʼn Farao-geïnspireerde marmermausoleum by sy villa in Arcore naby Milaan gebou om ʼn ewige rusplek vir familie en vriende te wees wanneer hulle sterf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.