Ski-hellings in Lesotho gesluit weens beurtkrag

Die AfriSki vakansie-oord. (Foto: Facebook/ Afriski)

Afriski vakansie-oord, ʼn gewilde ski-oord in Lesotho se Malutibergreeks, sal vir die eerste keer in 14 jaar nie sy ski-hellings vir die winterseisoen oopstel nie. Dit is omdat voortdurende beurtkrag dit onmoontlik maak vir die oord om ʼn veilige en aangename ski-ervaring aan besoekers te bied.

Die oord, wat jaarliks gemiddeld 14 000 besoekers verwelkom, het dié nuus in ʼn plasing op sy Facebookblad gedeel. “Ons is baie jammer om julle in te lig dat ons vanjaar nie ʼn veilige en genotvolle ervaring kan waarborg nie, weens verskeie uitdagings wat die oord tans ervaar.

“Ons wil julle graag verseker dat ons uitvoerende spanlede alles in hul vermoë doen om met ʼn werkbare plan C vorendag te kom, hoewel plan A en B nie tot dusver verwerklik is nie.”

Hoewel die plasing nie spesifiseer wat die uitdagings is nie, het Afriski se uitvoerende hoof, Reuphillan Pelser, aan Jacaranda FM Nuus gesê dat voortslepende beurtkrag dit moeilik maak om die sneeu te vervaardig wat op die ski-hellings gebruik word.

“Die tegnologie en sneeumasjiene wat ons gebruik, is afhanklik van elektrisiteit. Ons het die afgelope vyf maande gesien dat ons daagliks tot vier uur lank geen krag het nie. Soms word die krag ook afgesny al is daar nie geskeduleerde beurtkrag nie.”

Pelser sê die sluiting is nie permanent nie en dat hulle kyk na alternatiewe kragopwekkingsmetodes vir opvolgende winterseisoene.

Eskom het die afgelope week heelwat minder beurtkrag ingestel, maar kenners waarsku hoër vlakke van beurtkrag kan te eniger tyd weer ingestel word.

Luidens die plasing op Afriski se Facebookblad is besoekers steeds welkom, aangesien natuurlike sneeuval steeds op sommige dae sal plaasvind wat ander winteraktiwiteite moontlik maak.

“Ons verstaan egter dat sommige gaste hul bespreking sal wil kanselleer, en sal alles moontlik doen om te verseker dat die proses glad verloop. Gaste is geregtig op ʼn volle terugbetaling van hul geld, indien hulle binne 30 dae van hul beplande besoek kanselleer.”

Die oord het ook sy dank uitgespreek teenoor besoekers vir hul “onwrikbare ondersteuning tydens hierdie uitdagende tye”.

“Ons is steeds hier, ons sal ons bes doen en ons waardeer julle ondersteuning.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.