Skietery in Toronto eis lewe van vyf

Polisie het met hul aankoms by die woonstelgebou op ‘n grutoneel afgekom (Foto: Arlyn McAdorey, The Canadian Press via Twitter)

Vyf mense is dood en nog een beseer in ʼn skietery in voorstedelike Toronto in Kanada in  ʼn voorval waartydens polisiebeamptes die aanvaller ná die slagting ook doodgeskiet het.

Jim MacSween, plaaslike polisiehoof, sê die skietery het Sondag in ʼn woonstelgebou in Vaughan in die noorde van Toronto plaasgevind. Inwoners van die gebou is tydens die skietery gevra om die gebou te verlaat.

Polisiebeamptes is vroegaand na die toneel ontbied en ʼn skietery het tussen beamptes en die aanvaller ontstaan. Die polisie het die persoon doodgeskiet.

Tydens hul ondersoek het die polisie op vyf slagoffers in verskillende woonstelle in die gebou afgekom.

“Volgens inligting het die aanvaller alleen opgetree. Die motief vir die skietery word ondersoek en ook of daar ʼn verband tussen die slagoffers en die verdagte was,” sê MacSween.

Hoewel Kanada minder massaskieterye as die VSA ondervind, het Kanada ʼn toename in wapengeweld ervaar wat daartoe gelei het dat die regering onlangs wetgewing voorgestel het om handwapens te verbied.

In April 2020 het ʼn gewapende man – vermom as ʼn polisieman – 22 mense in die oostelike provinsie Nova Scotia doodgeskiet. Dit word beskou as die ergste massaskietery in Kanadese geskiedenis.

Die regering het sowat ʼn maand later altesame 1 500 verskillende soorte vuurwapens verbied.

Vuurwapenverwante geweldsmisdade is verantwoordelik vir minder as drie persent van alle geweldsmisdade in Kanada – maar sedert 2009 het die per capita-koers van vuurwapens wat afgevuur word met die doel om dood te maak of te wond vyfvoudig toegeneem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.