Slegs een selfmoordbom in Kaboel – Pentagon

‘n Militêre vliegtuig styg op in Kaboel, Afghanistan. (Foto: AFP)

Die Pentagon het Vrydag gesê slegs een selfmoordbomaanvaller het die aanval op die lughawe in Kaboel, Afghanistan, uitgevoer. Dít nadat daar aanvanklik vermoed is dat twee afsonderlike selfmoordbomme Donderdag ontplof het.

“Ons glo nie dat daar ʼn tweede ontploffing by of naby die Baron-hotel was nie, asook dat dit net een selfmoordbomaanvaller was,” het genl. Hank Taylor gesê.

Daar is aanvanklik geglo daar was ʼn tweede ontploffing by die hotel digby die lughawe, waar Britse soldate en burgers tuisgaan.

Die aanval deur die Islamitiese Staat (Isis) het die lewe van minstens 85 mense geëis. Dertien van die oorledenes was Amerikaanse soldate.

Pres. Joe Biden van Amerika het intussen beloof om diegene verantwoordelik vir die dodelike aanval op te spoor. “Ons sal nie vergewe nie. Ons sal nie vergeet nie. Ons sal julle opspoor en laat betaal,” het Biden by die Withuis gesê.

Die Taliban het ook op sy beurt die aanval veroordeel, maar daarop gewys dat dit plaasgevind het in ʼn gebied wat onder die beheer van die Amerikaanse weermag was.

Daar word intussen gevrees dat Isis nog aanvalle kan uitvoer.

“Ons glo steeds dat daar geloofwaardige bedreigings is … spesifieke, geloofwaardige bedreigings,” het John Kirby, Amerikaanse militêre woordvoerder, vroeër vandag gesê.

Daar wag in dié stadium nog sowat 5 400 mense op die lughawe om uit Kaboel verwyder te word nadat die Taliban vroeër vandeesmaand in Afghanistan aan bewind gekom het. Meer as 100 000 mense is sedert 14 Augustus reeds verwyder.

Volgens Taylor sal die Verenigde State mense tot op die laaste oomblik nog na veiligheid bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Joe Biden is verantwoordelik vir wat gebeur het en ek verstaan nie. Hy onttrek die Amerikaanse magte maar hy wil die skuldiges aan die pen laat ry. Hoe gaan hy dit doen as daar niemand is nie?

Heleen ·

So is die antichris besig om die wêreld oor te neem.. Tekens van die tye! Kry julle sakies in orde

Amony ·

Ek hoop maar net nie dat daar tussen die vlugtelinge verskuilde Taliban is om iets aan die lande gaan doen waarheen hulle gevat word nie.

Grassie ·

Die Amerikaners het holderstebolder en op chaotiese wyse uit Afganistan begin begin padgee. Hulle het groot hoeveelhede wapens, voertuie en selfs helikopters net so agtergelaat wat nou deur die terroriste “oorgeneem” is. En Sleeping Joe probeer sy bes om ferm en indrukwekkend op TV te lyk maar misluk klaaglik. ‘n Ordelose land onder patetiese leierskap.

Frank John ·

Sit jul voet neer en wys hulle hulle kan nie net doen wat hul wil nie. Vat beheer America – Joe Biden

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.