Slegte weer dalk oorsaak van vliegongeluk

Die vliegtuigwrak. (Foto: Man Bahadur Basyal / Nepalese polisie / AFP)

Vlugte in Nepal sal slegs goedkeuring kry indien daar gunstige weerstoestande vir die hele rit is, aldus nuwe regulasies wat aangekondig is in die lig van ʼn onlangse ongeluk wat 22 lewens geëis het.

ʼn Volledige ondersoek na die vliegtuigongeluk Sondag van die Twin Otter-vliegtuig in die weste van Nepal duur voort, maar ʼn voorlopige uitslag dui daarop dat slegte weer dalk die oorsaak was.

Lugverkeerbeheer het kontak met die vliegtuig verloor kort ná dit by Pokhara opgestyg het op pad na Jomsom, ʼn gewilde bestemming vir bergklimmers in die Himalajas.

Die wrak is ʼn dag later gevind. Sestien mense van Nepal, vier van Indië en twee van Duitsland is almal dood aangetref.

Lugvaartmaatskappye het kommer uitgespreek oor hoe die nuwe regulasies ingestel gaan word as mens die land se beperkte weervoorspellingsinfrastruktuur in ag neem.

Owerhede het Donderdag gesê vlugpermitte sal slegs uitgereik word indien ʼn lugdiens ʼn vlugplan indien met weerinligting vir die bestemming en die hele roete van die vlug, aldus die burgerlike lugvaartowerheid in Nepal.

Weervoorspellings vir die hele roete was nie vroeër verpligtend nie.

Lugdienste sal ook nie vlugte kan onderneem indien die departement van hidrologie en meteorologie gure weersomstandighede vir ʼn sekere tyd in enige gebied voorspel nie.

Lugdienste sê egter Nepal het nie voldoende infrastruktuur vir akkurate weervoorspellings nie, veral nie in afgeleë gebiede met bergagtige terrein waar dodelike vliegtuigongelukke in die verlede plaasgevind het nie.

“Die besluit is noodsaaklik en speel ʼn belangrike rol in vlugveiligheid, maar ons is verward oor hoe ons dit gaan implementeer,” sê Yog Raj Kandel Sharma, woordvoerder van die Lugdiensoperateursvereniging in Nepal. “Daar is geen duidelike manier om ʼn weervoorspelling vir die roete te kry vir plaaslike vlugte nie.”

Die lugvaartowerheid het ook ʼn komitee aangestel om die moontlikheid te ondersoek om dit verpligtend te maak dat daar twee vlieëniers aan boord enkel-enjin helikopters is.

Sondag se ongeluk is die jongste vliegtuigongeluk in die land waar die moeilikste landingstroke ter wêreld geleë is. Vlieëniers moet ook gereeld wispelturige weersomstandighede in die berge trotseer. Nepal se lugvaartbedryf het die afgelope paar jaar toegeneem waar goedere en mense tussen moeilik bereikbare bestemmings vervoer is. Buiten die vlugomstandighede word die bedryf egter ook geteister deur swak veiligheid weens ondoeltreffende opleiding en instandhouding.

Die Europese Unie het alle lugdienste van Nepal uit sy lugruim verbied oor veiligheidskwessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie ·

Seker een van die moeilikste en gevaarlikste areas om in te vlieg in die wêreld…

E ·

Ja nee, ek dink ‘n donkie kar is veiliger daar, met al die voorspellings in die wereld kan daai weer binne minute verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.