‘Sneeustorm van die eeu’ eis tientalle lewens

(Foto: Joed Viera/AFP)

ʼn Verwoestende sneeustorm in dele van Amerika het reeds die lewens van minstens 50 mense geëis.

Die sterftes is oor nege state aangemeld. Die reusestorm het ook wydverspreide kragonderbrekings en reisvertragings tot gevolg. Meer as 15 000 vlugte is al gekanselleer, aldus Flightaware.com.

In New York het reddingswerkers motors deursoek wat onder die sneeu vasgeval het en talle liggame is in voertuie onder sneeubanke ontdek.

Die stad Buffalo in Erie County is die episentrum van die krisis en is onder groot hoeveelhede sneeu begrawe. “Dit is sekerlik die sneeustorm van die eeu,” het Kathy Hochul, goewerneur van die deelstaat New York, gesê.

Volgens Hochul het daar oornag 0,75 tot 1 meter se sneeu in sommige stede in die weste van dié deelstaat geval.

(Foto: Joed Viera/AFP)

President Joe Biden het “die volle mag van die federale regering” aangebied om New York te ondersteun en ook ’n noodverklaring vir die staat goedgekeur.

Lede van die Nasionale Wag en ander reddingspanne het honderde mense uit sneeubedekte motors en huise gered.

John Garcia, polisiehoof in Erie County, het gesê die storm is “die ergste” wat hy nog gesien het, met tye van geen sigbaarheid nie en owerhede wat nie op noodoproepe kon reageer nie.

Die uiterste weer het temperature tot onder vriespunt in byna al die Amerikaanse state laat daal. In ʼn stadium was byna 1,7 miljoen huishoudings sonder elektrisiteit in die snerpende koue.

Sommige van die land se besigste hoofweë moes ook tydelik gesluit word weens die weerstoestande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.