Só het Margrethe koningin van Deense harte gebly

Koningin Margrethe van Denemarke. (Foto: Britta Pedersen/AFP)

Nes die meeste Britte, het baie Dene deur hul leeftyd net een koningin geken.

Hoewel sy nie naastenby die vlak van wêreldwye aandag as haar Britse eweknie wyle koningin Elizabeth II geniet het nie, het Denemarke se koningin Margrethe II in haar 52 jaar op die troon uiters gewild geword danksy haar moderne monargiese aanslag, onbeskaamdheid om standpunte oor belangrike kwessies te deel en selfs haar kreatiwiteit as kunstenaar.

Sondag oorhandig sy amptelik die aflosstokkie aan haar oudste seun, kroonprins Frederik, en sy Australies-gebore vrou, kroonprinses Mary, en los klaarblyklik groot, invloedryke skoene om te vul.

Wat kan ander monarge, en selfs politici, by Europa se gewildste en langsdienende koningin leer?

Margrethe speel versoeningsrol vir Deense bevolking

Koningin Margrethe II, gebore prinses Margrethe Alexandrine Þórhildur Ingrid op 16 April 1940 in Kopenhagen, het op 14 Januarie 1972 in die ouderdom van 31 die troon bestyg na die dood van haar pa, koning Frederik IX.

Koningin Margrethe is in 1967 met die Frans-gebore Henrik de Laborde de Monpezat van Denemarke getroud. Die egpaar het twee seuns, kroonprins Frederik en prins Joachim, wat in onderskeidelik 1968 en 1969 verwelkom is.

Die jong koningin is egter nie met ope arms as regerende monarg verwelkom nie, met 45% van Dene wat in die 1970’s geglo het dat koninklikes geen plek in ʼn moderne demokrasie gehad het nie – veral omdat hulle pligte deesdae, nes baie ander moderne monargieë, grootliks seremonieel is en deur die grondwet omskryf word.

Hoewel politieke besluitneming by die kabinet en die parlement berus, is die monarg steeds Denemarke se staatshoof en ʼn simbool van die nasie – ʼn rol wat kenners meen juis in Margrethe se geval nie onderskat moet word nie.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, het koningin Margrethe II deur haar heerskappy ʼn morele leier vir Denemarke geword wat daarin geslaag het om as ʼn nasionale verbindingsinstrument mense saam te snoer.

“In die meeste Westerse lande sien ons ʼn groot verlies aan verbinding, nasionale trots en geweldige individualisering, wat beteken dat mense nie altyd die waarde van kollektiewe strewes begryp nie.

“Sy het egter ʼn sterk boodskap van patriotisme oorgedra, haar duidelik uitgespreek oor belangrike plaaslike en internasionale kwessies en het daarmee die beeld van ʼn ware leier geskep.”

Die Deense koninklikes is gevolglik vandag van die gewildste in Europa en geniet byna 80% van die Deense bevolking se ondersteuning, luidens ʼn onlangse YouGov-peiling.

“Patriotisme in Denemarke is vandag hoër as enkele dekades gelede. In baie ander lande, soos Brittanje, is steun vir die monargie besig om af te neem omdat die monarg sodanig oorversigtig is om enige uitsprake te maak of oordrewe patrioties voor te kom,” verduidelik Kleynhans.

“Denemarke is, anders as baie ander Westerse lande, ook nog grootliks homogeen, dus met ʼn klein immigrantbevolking, en dit dra by tot die steun vir ʼn historiese instelling soos die monargie.”

Deense koninklikes kos agt keer minder as koning Charles en kie

Volgens Kleynhans is daar in Denemarke, soos in ander Europese monargieë, groot sensitiwiteit vir die koste om koningsfamilies te onderhou.

Die koningin het verlede jaar die Deense koninklike familie ook klaarblyklik afgeskaal deur haar jongste seun, prins Joachim, se vier kinders se titels te verwyder.

“Dit is ʼn goeie ding en bevestig ʼn bewustheid vir die standpunt van gewone burgers,” meen Kleynhans.

Volgens Reuters het die Deense koninklike familie in 2022 sowat 88,9 miljoen se Deense Krone (sowat R240 miljoen) van openbare fondse ontvang, vergeleke met die 86,3 miljoen pond (R2 miljard) wat in dieselfde jaar aan die Britse koninklike familie toegeken is.

Dít beteken dat die koninklikes vir elke Deen jaarliks ongeveer €9 kos, aldus AFP.

Selfs Sondag se kroningseremonie, waartydens sy haar abdikasie formeel sal onderteken by ʼn staatsraadvergadering voor die Deense kabinet by die Christiansborg-paleis in Kopenhagen, word as “klein en intiem” bestempel.

By dié vergadering sal haar 55-jarige seun koning Frederik X word, sy vrou Mary word koningin van Denemarke en hul oudste seun, Christian (18), sal die titel van kroonprins oorneem.

Daarna sal die Deense eerste minister, Mette Frederiksen, eenvoudig die nuwe koning aan die nasie op die balkon van dié paleis aankondig.

Abdikasie teken van ‘ware leierskap’

Hoewel haar abdikasie aankondiging op Oujaarsaand verlede jaar onverwags was, meen kenners dat die koningin se besluit om uit te tree voor haar afsterwe ʼn teken van ware leierskap is. Dit het selfs bespiegelings laat ontstaan dat haar besluit leiers soos koning Charles III kan beïnvloed.

Volgens die koningin het ʼn ernstige rugoperasie wat sy vroeg in 2023 ondergaan het, tot “gedagtes oor die toekoms” gelei en haar aangespoor om die aflosstokkie te oorhandig.

“Ek het besluit dat dit nou die regte tyd is,” het sy in haar toespraak op 31 Desember gesê.

“Dit is ʼn goeie praktyk en word ook in sommige ander lande soos Nederland gevolg. Indien die monarg ʼn impak wil maak en werklik ʼn sterk leierskapsrol wil vervul, kan hy of sy dit nie aanhou doen wanneer hulle gesondheid agteruitgaan nie,” sê Kleynhans.

Ook die Britse rubriekskrywer Simon Jenkins van The Guardian noem Margrethe se abdikasie “ʼn teken van ʼn sinvolle grondwetlike monargie”.

Volgens Jenkins dui abdikasie op ʼn nasie wat sy instellings “geskik vir hulle doel” kan hou.

“Hy (koning Charles) is beslis geregtig op ʼn aansienlike heerskappy nadat hy so lank gewag het, maar nie tot die dood nie. Om oud te word moet nooit ʼn hindernis wees om te werk nie, maar ouderdom onderhandel ongelukkig nie.”

Koningin spring nie familie-uitdagings vry

Met haar styging tot die troon het koningin Margrethe se man amptelike die prins-gemaal geword – iets waaroor hy openhartig en onbeskaamd sy misnoeë gedeel het.

Nes koningin Elizabeth II se man, prins Philip, moes dié prins-gemaal sy unieke ondersteuningsrol self definieer in ʼn tyd waar mans tradisioneel as leiers oorheers het.

Anders as prins Philip, wat geprys is vir die rol as regterhand wat hy gespeel het, het prins Hendrik naam gemaak vir sy woedeuitbarstings en flambojante styl.

Prins Hendrik en die koningin saam met kroonprins Frederik en sy vrou, kroonprinses Mary, op hul troudag in 2004. (Foto: Odd Andersen/AFP)

Hy het in 2002 koerantopskrifte gehaal nadat hy na die gesin se woning in die Suide van Frankryk gevlug het weens sy bewerings dat die Dene hom “nie respekteer nie”.

Die omstrede prins het ook voor sy dood in 2018 gevra om nie langs sy vrou begrawe te word nie, weens sy ontevredenheid dat hy “nooit gelyk aan haar gemaak is in die lewe nie”.

Haar jongste seun, prins Joachim, skroom ook nie om hartsake met die media te deel nie – iets wat dalk bekend klink vir Britse koninklike aanhangers.

Hoe lyk haar opvolgers?

Kroonprins Frederik, ʼn voormalige rebelse tiener wat in die 1990’s naam gemaak het as ʼn partytjie-prins, geniet die steun van meer as 80% van die Dene volgens ʼn onlangse peiling.

Die nuwe koning was die eerste Deense koninklike om ʼn universiteitsgraad te voltooi, en hy het selfs onder ʼn skuilnaam gepoog om ʼn nagraadse kwalifikasie in die VSA te doen. Die 55-jarige word aan sy passie vir die omgewing, liefde vir sport en ontspanne, liberale leierskapstyl geken.

Sy vrou, die nuwe koningin van Denemarke, het haar toekomstige man in 2000 tydens die Olimpiese Spele in Sydney, Australië, ontmoet en aanvanklik na bewering nie besef dat hy ʼn koninklike is nie.

Sy het destyds beïndruk met hoe vinnig sy die Deense taal aangeleer het, en word danksy haar donker lokke en modieuse styl met prinses Catherine van Wallis vergelyk.

(Grafika: Maroela Media)

Die paartjie is in 2004 getroud en het saam vier kinders, prins Christian (18), prinses Isabella (16) en die tweeling, prins Vincent en prinses Josephine (13).

Volgens Kleynhans het die nuwe koningin haar goed in die Deense samelewing geïntegreer, en het die egpaar se vier kinders deurentyd hulself bewys as individue met ʼn sterk verbintenis tot Denemarke.

“Die nuwe koning sal aanvanklik, danksy sy moeder se gewildheid, met hoë steunvlakke begin, maar in ʼn veranderende wêreld waar mense onseker is oor die toekoms, sal hy homself moet vestig as ʼn bron van stabiliteit vir die Deense bevolking. Die uitdaging is om relevant te bly en die reusegaping in morele leierskap waarna soveel mense in ʼn toenemend individualistiese wêreld smag, te vul.”

Bronne: AFP, The Washington Post, Reuters, Hello!, The Guardian.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.