Soedan: SA’ners dalk Vrydag terug by die huis

Talle mense is reeds uit Soedan na veiliger plekke geneem. (Foto: Khalil Mazraawi / AFP)

Suid-Afrikaners wat in Soedan vasgekeer was, sal na verwagting Vrydag van Egipte na Suid-Afrika terugkeer.

Dr. Imtiaz Sooliman, direkteur van die noodledigingsorganisasie Gift of the Givers, het bevestig die eerste groep van 38 Suid-Afrikaners is reeds veilig in Aswan, ʼn stad in die suide van Egipte, op die oosoewer van die Nylrivier.

Die oorblywende groep van agt Suid-Afrikaners, wat weens paspoortprobleme by die grens opgehou is, se toegang is ook verseker ná hulle 26 uur lank moes wag.

“Die groep se reisprobleme is gisteroggend in die wiele gery toe die busbestuurder ʼn epileptiese toeval gehad het. Die bus het daarna onklaar geraak en soldate het die gebied begin beset,” het Sooliman gesê. “Diplomatieke gesprekke agter die skerms het egter vlot verloop en die bestuurder maak self ook goeie vordering.”

Die groep sal na verwagting later vandag in Egipte aankom.

“As alles vlot verloop, sal hulle môre op ʼn vlug van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag na Suid-Afrika geneem word om by hul geliefdes aan te sluit.”

Sooliman sê hulle was ook in staat om burgers van Angola, Zimbabwe, die VSA, Brittanje en Nigerië by te staan met hulp.

“Dit is ʼn humanitêre tragedie en vereis samewerking tussen regerings en mense en verg van elke mens om saam te staan. Ons bid dat die skietstilstand sal voortduur en ons hoop op bemiddelling. As jy jou land begin verwoes, dan ly miljoene mense daaronder. Dit het ʼn impak op die vasteland Afrika en die wêreld. Ons het leiers nodig wat vrede nastreef.”

Goeie nuus oor die Skotse terriërs

Sooliman het ook goeie nuus gehad oor een van die Suid-Afrikaners wat twee Skotse terriërs moes agterlaat.

“Dié twee honde is ook veilig. Daar is plek gemaak vir hulle op die bus en hulle sal na verwagting ook op die vlug na Suid-Afrika terugkeer.”

Hernude lugaanvalle skud Soedan-skietstilstand

Soedan se weermaghoof Abdel Fattah al-Burhan (links) en RSF-bevelvoerder genl. Mohamed Hamdan Daglo (Hemeti) (Foto: Ashraf Shazly/AFP)

Die Soedannese weermag het Donderdag lugaanvalle op semimilitêre groepe toegeslaan. Dodelike skietaanvalle het in Darfoer opgeleef op die 13de dag van die konflik ondanks ʼn skietstilstand wat die VSA onderhandel het.

Die weermag het Woensdagaand gesê hy het ingestem tot gesprekke in Juba, hoofstad van Suid-Soedan om die drie dag lange skietstilstand te verleng. Die ooreenkoms vir die skietstilstand verstryk Vrydag.

Daar was al verskeie vredespogings sedert die konflik op 15 April begin het tussen Soedan se weermag onder leiding van genl. Abdel Fattah al-Burhan en die semimilitêre Rapid Support Forces (RSF) onder bevel van sy adjunk, nou mededinger, Mohamed Hamdan Daglo. Alle pogings was vrugteloos.

Die skietstilstand wat die VSA onderhandel het, het Dinsdag begin.

Minstens 512 mense is reeds dood en 4 193 is beseer in die konflik, aldus getalle van die ministerie van gesondheid. Die werklike dodetal is waarskynlik baie hoër.

Die Verenigde Nasies het gewaarsku dat tot soveel as 270 000 mense na Soedan se armer bure Suid-Soedan en Tsjad kan vlug. Ander Soedannese het skuiling gaan soek in Egipte aan die noorde en Ethiopië aan die ooste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miena ·

dis goeie nuus – veral dat die hondekinders kan saamkom en nie agterbly nie. Wel gedaan.

Jaco ·

Daar was, nogal volgens ramaphosa self, 77 Suid-Afrikaners in Soedan. Nou is daar net 38. Hoe dan nou? Swak wiskunde, swak administrasie of speel die alewige sas-nonsens al weer ‘n rol?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.