Sosiale media moet herbesin ná Trump-verbanning op platforms

(Foto: Douliery/AFP)

Sosialemediareuse het ʼn streep oorgesteek deur pres. Donald Trump en ʼn menigte van sy volgelinge van hul platforms af te skop, sê kenners. Nou sit hulle met ʼn tameletjie oor hoe om hul pogings om polities neutraal te bly te definieer, terwyl hulle terselfdertyd demokrasie en vryheid van spraak bevorder.

Internetmaatskappye kan dalk nou onderwerp word aan groter druk vir regulering ná die onlangse oproer.

Ná die geweld by die Amerikaanse kongresgebou, is Trump van platforms soos Facebook, Twitter, die Google-beheerde YouTube en Snapchat afgeskop omdat hy die oproeriges aangehits het. Die alternatiewe netwerk Parler, ʼn tuiste vir baie Trump-ondersteuners, is deur Amazon se webdienste-eenheid van die web afgedwing.

Die verbod was bykans ongekend vir internetmaatskappye, maar dit het ook die geloof verpletter dat dié platforms bloot neutrale plekke is waar mense enige mening kan uitspreek.

“Om Donald Trump te verbied, was die oorsteek van die Rubikon vir sosialemediamaatskappye en hulle kan nie daarvan omdraai nie,” sê Samuel Woolley, ʼn professor en navorser aan die Universiteit van Texas se Sentrum vir Mediabestuur.

“Tot nou was hul grootste doelwitte om vryheid van spraak te bevorder, maar onlangse gebeure het gewys hulle kan dit nie meer doen nie.”

Jack Dorsey, hoof van Twitter, het die verbod verdedig, maar ook toegegee dit spruit uit “ons mislukking om gesonde gesprekvoering te bevorder”.

“Dit skep ʼn presedent wat ek voel gevaarlik is: Die mag wat ʼn individu of korporasie het oor ʼn gedeelte van wêreldwye openbare gesprekvoering.”

Javier Pallero, beleidsdirekteur vir die digitale drukregtegroep Access Now, sê die verbod op Trump kan net die begin wees van sosialemediamaatskappye wat spook met gevaarlike inhoud, ook van politieke leiers.

“Die maatskappye het gereageer op oproepe tot geweld deur die president van die VSA en dit was goed so, maar hulle misluk in plekke soos Mianmar waar sosiale media gebruik word vir vervolgings,” sê Pallero.

Menseregte eerste

(Foto: Samuel Corum/Getty Images/AFP)

Sosialemediaplatforms word in sommige wêrelddele gedwing om te kies tussen voldoening aan nasionale wetgewing of die prioritisering van menseregte, sê Pallero.

“Ons vra platforms om menseregte eerste te stel. Soms doen hulle, maar besluite oor die bestuur van inhoud is altyd ʼn frustrasie.”

In outoritêre regimes met beperkende sosialemediawetgewing, sê Pallero platforms moet “bly en ʼn stem aan demokrasie-aktiviste gee. As hulle egter afvalliges moet uitwys of hulle sensor, moet hulle onttrek – maar nie sonder ʼn geveg nie.”

Woolley sê sosialemedianetwerke wat Trump afgegooi het, gaan waarskynlik onder druk kom om stappe te doen teen ander leiers wat die platforms misbruik.

“Hulle kan nie bloot ʼn politikus in die VSA verbied sonder om wêreldwyd soortgelyke stappe te doen nie,” het hy gesê.

“Dit sal lyk of hulle die VSA prioritiseer in ʼn manier wat as onbillik beskou kan word.”

Platforms se mag

(Foto: Drew Angerer/Getty Images/AFP)

Trump se verbanning was ʼn groot stap vir Twitter, ʼn platform wat die president gebruik het om beleidsaankondigings te doen en gesprek te voer met sy meer as 80 miljoen volgelinge. Tot onlangs het platforms wêreldleiers meestal toegelaat om hul sê te sê omdat dit as in die openbare belang gesien is – selfs al was die opmerkings opruiend.

Die afskop van Trump wys net weer watter ongelooflike mag ʼn handvol sosialemedianetwerke het oor die vloei van inligting, het Bret Schafer, ʼn navorser by Alliance for Securing Democracy, ʼn drukgroep, gesê.

“Een van die dinge wat hulle gedwing het om op te tree, is toe ons die president se retoriek in werklike geweld sien omskakel het,” het Schafer gesê.

“Dit kan wees waar hulle die streep trek.”

Hy sê daar is egter teenstrydighede wanneer dié beleid in die res van die wêreld afgedwing word, ook onder outoritêre regerings.

“Dit is geldige vraag om te vra of leiers in sommige van hierdie lande toegelaat moet word om ʼn rekening te hê, terwyl hulle burgers nie mag nie en nie aan die gesprek kan deelneem nie.”

Regulatoriese turksvy

Karen Kornbluh, hoof van die digitale innovasie en demokrasie-inisiatief by die Duitse Marshallfonds, sê enige regulatoriese veranderings moet klein wees om te verhoed dat aanlyn gesprekke gereguleer word.

Kornbluh sê platforms moet ʼn deursigtige gedragskode hê wat verkeerde inligting en oproepe tot geweld beperk en moet aanspreeklik gehou word as hulle dit nie afdwing nie.

“Ek dink nie ons wil die internet reguleer nie. Ons wil aanlyn beskerming bied vir individuele regte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Therese ·

Alle geloofwaardigheid permanent, onherstelbaar aangetas.
Sosiale-, sowel as hoofstroommedia.

gatgogga ·

Dieselfde media was ook verantwoordelik daarvoor dat Beiden nou in die Withuis sit.
Trump het deurgaans die media teengestaan, omdat die media alles probeer manipuleer – en nou het die media vir Trump gewys dat hulle baas is, omdat hulle die mense wat nie vir hulleself kan dink nie, aan die neuse kan rondlei.

Rosie ·

Hulle wys die vinger na Trump maar vergeet daar wys vier terug. Spiteful people spite them self – lui die spreekwoord.

Pieter ·

Presies wat ons ook gese het, wat van ander lande. Dan moet elke plasing wat ly tot geweld ens gemonitor word. So ook kan mens nou enige publieke byeenkoms wat genoem word op so platform gaan ontwrig en so doende die eienaars van die plasing daarvan beskuldig…

Drico ·

Al hoekom Trump afgegooi is, is omdat hy n geweldige klomp ondersteuners het, mens wat moeg is vir korrupsie, bedrog en onderdrukking, wat hul godsdiens volgens die Bybel wil uitleef en terrorisme en een wereldorde wil uitwis.
n Man wat so n klomp ondersteuners het het baie mag as hy dit sou wou uitoefen en so n man is n groot gevaar vir die res van die mensdom.
As dit werklik gegaan het oor geweldaanhitsing dan sou die platvorms verskeie politieke leiers moes blok en baie van hulle sou in SA gewees het, oa Malema, maar duidelik het hy nie genoeg volgers om as n magtige en gevaarlik persoon te klassifieer nie. n Leier het net soveel mag as wat sy volgelinge hom toelaat om te hê.

Hoekom ·

“Na die geweld”. Watse geweld? Met BLM wat geplunder en verbrand het, het julle dit nie eers geweld genoem nie, julle het dit protes genoem. Die media van die wereld het verskillende reels vir verskillende mense…

Fritz ·

Trump het sakke vol geld. Hy moet sy eie server en webwerf aanskaf waarop geen liberale kommentaar geduld word nie.

Aai ·

Soos ek se die media is in beheer van die wereld.Hulle het Pres.Trump sleg gemaak die hele tyd hom nooit geprys vir sy goeie werk.Demokrate nou is dit julle beurt in die moderne wereld.So kom twitter en facebook wys ons wat julle werd is en verwyder MALEMA

pestilensie ·

En hier in sonnige afrika het Beeld onder die aanvoering van Maksie die Preez onse Steve Hofmeyer ook suksesvol “ geban “ en ek wed meeste van julle lees nog die dagblaaitjie

Yvonne ·

Nee, toe nie. Boonop is ek, uit beginsel, besig om van Gmail, Google, Facebook, YouTube, ens., te deplatform. Sal ‘n rukkie neem maar ek gaan nie omdraai nie.

Jacobus ·

Die afgelope jaar spreek 100% die artikel teë. Trouens die verwoestende opstande deur BLM en Antifa is georganiseer oor sosiale media. Die huidige swartsmeerdery is totaal teen alle ordentlikheid.

Chris ·

Ek is nie ‘n Trump aanhanger nie. As staatshoof het hy homself nie as sulks gedra nie. Ek kan hom op geen besluit wat hy gemaak het kritiseer nie. Die Amerikaners het iemand soos Trump nodig gehad om hul van hulself te genees. Hy het die Amerikaners ‘n groter guns gedoen as wat hulle tans besef. Die gevolge sal nog kom. Hy wat Trump is het dit bewys dat die demokrasie waaraan al die westerse lande hang op baie dun ys is. Die liberaal demokratiese politieke regeringstelsel is ook uitgedien. Die VSA met Osama Bin Biden se moeilikheid is geboek. Met hul radikaal liberale beleid gaan hulle die land verder die afgrond in lei. Daar is soveel onderstrominge in daardie land en is die harde werklikhede nooit aangespreek nie. Die land is tans in ‘n “noodtoestand” en loop die emosies hoog. Die situasie is onseker. Volgens Twitter het Trump 81miljoen volgelinge gehad. Iets is nie vir my pluis nie. Die tyd sal egter leer. Ek hou die situasie met inspannig dop. Tyd sal leer.

Yvonne ·

Ja, en so word die leuen die waarheid, en andersom. Trump sleg, Biden ‘n engeltjie. En nou gaan die heksejag op Trump ons seker vir die volgende 4 jaar besig hou. En ek was altyd onder die indruk dat Liberalisme o.a verdraagsaamheid impliseer.

Johan ·

So wanneer word die PAC, Black First Land First, ANC en EFF se rassiste wat Moord en haat teen witmense en boere in Suif Afrika aanhits van Facebook en Twitter afgeskop?? Ek wag daarvoor. Dis mos net reg of geld die reels net in die VSA?

4ntj13 ·

Ek dink Twitter en Facebook praat van 70 000 en 50 000 adresse wat weens Amerikaanse regering-fopnuus oor twee weke van die lug verwyder is. Europese en Amerikaanse beskaafde (civil) leiers is deur die bank DANKBAAR dat dit gebeur het. Dis hoekom Europa ʼn paar jaar gelede al betrokke begin raak het by die identifisering van fopnuus. Ek hoop regtig die anti-werklikheidskultuur kry nou einde!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.