Sprinkaanplaag: Miljoene in Afrika ly honger

‘n Swerm sprinkane sit op ‘n boom (Foto: Sven Torfinn, AP)

ʼn Nuwe generasie van die woestynsprinkaanplaag bedreig tans die voedselsekerheid van sowat 20 miljoene mense in Ethiopië, Kenia en Somalië.

ʼn Verdere 15 miljoen mense in Jemen is ook in hongersnood gedompel weens dié dreigende plaag wat onlangs eksponensieel begin toeneem het.

Die sprinkaanplaag het einde Januarie groot verwoesting in Oos-Afrika begin saai en kenners sê dit is die grootste plaag in 25 jaar.

Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) sê die huidige swerm sprinkane is nou tot 20 keer groter weens die wydverspreide reënval in Maart vanjaar. Swerms kan ook na verwagting van Kenia na Suid-Soedan en Uganda versprei.

Die nuwe generasie swerms bestaan uit jonger volwasse sprinkane wat nóg meer eet as die volwassene sprinkane van die plaag vroeër die jaar.

Die swerm sprinkane vlieg deur die lug (Foto: Sven Torfinn, AP)

Die FAO gaan voort met hul pogings om die plaag te stuit te midde van die beperkings wat weens Covid-19 op die beweging van veldpersoneel, die gebruik van toerusting en die aanskaf van plaagdoders opgelê is. Lugbespuiting is die doeltreffendste manier om die plaag te beheer.

Cyril Ferrand, FAO se leier vir die span in Oos-Afrika, sê die grootste uitdaging wat die organisasie tans in die gesig staar, is die reisbeperkings wat die aanskaffing van gemotoriseerde spuite en plaagdoders vertraag. “Wêreldwye vragversendings word ook ontwrig. Indien plaagdoder in die onderskeie lande opraak, kan dit rampspoedige gevolge inhou.”

Ferrand sê aangesien Covid-19 die beweging van personeel in die veld ook beperk, moedig hy alle lande aan om die eLocust3-handtoestel en toepassing te gebruik om alle data rakende die plaag in te samel. Dié data moet dan deur middel van ʼn satelliet aan nasionale sprinkaansentrums en die Sprinkaan Informasiediens (DLIS) wat in die FAO-hoofkantoor in Rome gebaseer is, oorgedra word. Só kan die plaag noukeurig gemonitor word. In 2015 is meer as 450 van hierdie handtoestelle aan spanne in Noord-Afrika, die Nabye Ooste en suidweste van Asië versprei.

Intussen staar miljoene kleinskaalboere, wat vrugte en groente vir uitvoer dwarsoor Afrika verbou, ook finansiële verknorsing in die gesig. Dit is omdat die Covid-19-pandemie die in-en uitvoer van voedsel wêreldwyd ontwrig. Lande soos Marokko, Kenia en Suid-Afrika word die meeste hierdeur geraak.

Die woestynsprinkaan is die gevaarlikste migrerende pes ter wêreld (Foto: Sven Torfinn, AP)

Volgens die FAO word woestynsprinkane as die gevaarlikste migrerende pes ter wêreld beskou. Dié sprinkaan kan sowat 150 km per dag vorder en landelike gebiede verwoes in hul behoefte om te vreet en voort te plant. ʼn Swerm van een vierkante kilometer bevat tot 80 miljoen sprinkane en kan op een dag die ekwivalent van voedsel vir 35 000 mense verteer.

Tot dusver kon die FAO daarin slaag om 240 000 ha van die streek wat deur die plaag geraak word, met chemiese plaagdoders of bio-plaagdoders te behandel. Sowat 740 mense is opgelei om dié plaagbeheer toe te pas.

Die organisasie het ook alreeds $111 miljoen (meer as R2 miljard) ingesamel om die plaag te help beveg. Volgens ʼn konserwatiewe skatting word nagenoeg $153 miljoen (R2,8 miljard) benodig.

John Karongo, ʼn plaaslike landboukundige vir die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis (ICRC), sê te midde van die Covid-19-pandemie moet dié woestynsprinkaanplaag nie vergeet word nie. “Indien daar nie nou dringend iets gedoen word nie, kan die gevolge rampspoedig wees. Daar is 25 jaar laas só katastrofale plaag soos dié aangemeld,” sê Karongo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Eerlik ·

Sjoe, die aarde gaan omtrent gebuk deur al die pes. Wil vir my lyk of moeder aarde n appel te skil het met die mensdom.

Brakenjan ·

Die sprinkaanplae is aangebring deur mense, deur oorbewyding, and deur oorbevolking. Die plaag is nie die sprinkaan nie, maar mense. Al die diere wat sprinkane kon geëet het, het is seker reeds geëet en geplunder deur mense…

Fedup ·

That is really nasty hoppers. I just wonder when will people realise why this happening. God is reminding us who is in charge of the world.

Jerry ·

Ag asseblief, dit is nie sprinkane wat afrika honger laat ly nie dit is hulle magshonger leiers!

Hannes ·

As plaag SA tref is ek oortuig daarvan dat die regering apartheid die skuld gaan gee.

007 ·

Die 10 plae is terug. Ons luister mos nie, en kyk nie na die aarde nie.

marius ·

Die VN se baadjie gaan binnekort verkleur en voor wie gaan daar dan bakhand gestaan word ? Waarom kon afrika nog nooit sy eie probleme uitsorteer nie ?

RONEL ·

Dit is proteïene! ‘n Lekkerny vir sommige, so hoekom nie ‘n bron van voedsel vir die wat reeds honger ly nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.