Sri Lanka-president uit huis geskop; sal gou bedank

Inwoners sak toe op Sri Lanka se presidensiële paleis in Colombo (10 Julie 2022) (Foto: Arun Sankar/AFP)

Gotobaya Rajapaksa, die president van Sri Lanka, het gesê hy sal oor die volgende paar dae bedank ná betogers sy woning bestorm het en hy Saterdag gedwing is om op ʼn vlootskip te vlug.

Sy aankondiging kom ná duisende mense in Colombo betoog het ná maande se optogte deur mense wat desperaat en gefrustreerd is met die eilandnasie se haglike ekonomiese krisis.

Rajapaksa (73), president sedert 2019, is deel van ʼn familiestam wat al dekades lank aan die hoof staan van politiek in dié land in Suid-Asië van 22 miljoen mense.

Sy broer Mahinda (76) was vir ʼn dekade lank tot 2015 president. Tydens sy bewind het Sri Lanka se burgeroorlog in 2009 tot ʼn einde gekom toe Gotabaya, ook bekend as “The Terminator” aan die hoof was van veiligheidsdienste.

Onder Mahinda het Sri Lanka nader aan China beweeg en miljarde dollar geleen vir ydelheidsprojekte soos krieketstadions en lughawens en ʼn diepsee-hawe wat intussen aan Beijing verhuur word.

Die land se toerismebedryf is aanvanklik in 2019 ʼn knou toegedien tydens bomaanvalle op kerke en hotelle deur Islamitiese ekstremiste en daarna deur die Covid-19-pandemie. Die staatskas is verder uitgeput weens belastingkortings deur die staat, en Sri Lanka moes alles van medisyne tot kos en brandstof invoer.

Selfs met die hulp van Indië en ander lande het die land in April agterstallig geraak met sy $51 miljard- buitelandse skuldrekening. Die land is al maande lank in gesprekke met die internasionale monetêre fonds vir ʼn moontlike reddingsboei.

Inwoners sak toe op Sri Lanka se presidensiële paleis in Colombo (10 Julie 2022) (Foto: Arun Sankar/AFP)

Inwoners beleef al maande lank tekorte aan medikasie en kos en beleef grootskaalse kragonderbrekings. Vulstasies het boonop ook nie meer petrol of diesel nie, ondanks pleidooie aan Rusland en ander vir afslag op olie.

Die nie-amptelike inflasiekoers is naas Zimbabwe die ergste in die wêreld. Talle goedere, indien dit gevind kan word, is heeltemal te duur vir burgers om dit te kan bekostig.

Die Verenigde Nasies het gewaarsku dat Sri Lanka ʼn haglike humanitêre krisis op hande het met miljoene wat reeds hulp benodig. Meer as driekwart van die bevolking het hul kosinname verlaag weens die land se erge voedseltekorte, het die VN gesê.

Ná maande se betogings het Rajapaska-lojaliste in Mei op ʼn plundertog gegaan. Minstens nege mense is landswyd dood in geweld terwyl huise van die regerende party se lede aan die brand gesteek is.

Mahinda het as eerste minister bedank en is deur veiligheidsmagte uit sy huis begelei, maar Gotabaya het vasgeklou en veteraan-politikus Ranil Wickremesinghe (73) as premier aangestel. Wickremesinghe het nie veel te wys vir sy pogings nie en sy huis is Saterdag deur betogers aan die brand gesteek. Hy was nie in sy huis tydens die aanval nie. Hy het ook intussen aangebied om te bedank.

Volgens die speaker van die parlement sal Gotabaya, terwyl betogers sy presidensiële woning beset en selfies neem, Woensdag formeel bedank “om ʼn vreedsame oorgang te verseker”.

ʼn Opvolger moet binne ʼn maand deur ʼn stemmery in die parlement gekies word, maar die speaker het ʼn nuwe leier binne ʼn week belowe. Dit was Sondag egter nog nie duidelik of enigiemand genoeg ondersteuning onder wetmakers sal kan inwin om Rajapaksa op te volg nie.

“Ons stuur af op ʼn gevaarlike onsekerheid,” het minderheidswetgewer Dharmalingam Sithadthan aan AFP gesê. “Gota moes dadelik bedank het sonder om ʼn magsvakuum te laat.”

Duisende mans, vroue en kinders het intussen op die presidensiële woning toegesak. Hulle staan in rye om op Rajapaksa se stoel op die boonste verdieping te sit terwyl kinders en ouers die vleuelklavier tokkel.

In die “Gordon Garden”-park van die paleis geniet laggende families ʼn piekniek-middagete en kaalkop-geskeerde Boeddhis-monnike verstom hulle oor die marmervloere en lugverkoeling.

“Wanneer leiers in sulke luukse lewe, het hulle geen idee hoe die gewone mense oorleef nie,” het monnik Sri Sumeda aan AFP gesê. Hy het 50 km gereis om die paleis vir die eerste keer te besoek. “Dit wys wat gedoen kan word wanneer mense besluit om hul mag uit te oefen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Realis Thailand ·

Wag tot dit na SA kom in die toekoms
Die anc lede moet net kwaad genoeg raak

annie ·

Baie soos in Oekraïene wat Zollyyy toeskryf aan Rusland se inval. Net sy paleisie is mooi veilig vir onderdanige hogere besoekers en hul sakke vol geld. Hy moet oppas. Die skoon blou swembad van die paleis in Sri Lanka is klaar slymerig-vaal na die swembeurte van die hupse nuwe intrekkers. Ons mik ook na ‘n topplekkie vir hoë inflasie soos Zim en Sri. Die ANC bly hoop BEEE sal in ZA in £$$$ verander.

Lourens CFG ·

Kan dit nie aub met die anc gebeur nie.
Die hele boksendaais.

domheks ·

Thandi en cele en kie sal moet lig loop. Sien in engelse koerante hier begin ou carl en dudu planne maak, hoop die OTM by PhalaPhala werk nog teen daai tyd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.