Stootskrapers maak pad vir myn in Zambezi- nasionale park

Deur Charles Mafa, GroundUp

Die Laer Zambezi- nasionale park in Zambië. (Foto: Facebook / Lower Zambezi National Park)

Uitgrawings het begin vir ’n groot oopgroefkopermyn in die hart van die Laer Zambezi- nasionale park in Zambië.

Stootskrapers het hul intrek geneem in Zambië se beroemde natuurreservaat ná aktiviste se dekade lange stryd om mynboubedrywighede in die park te stuit.

Die ontwikkeling volg ook ná ʼn ommeswaai deur die Zambiese regering se omgewingsbestuursagentskap en pres. Hakainda Hichilema, wat vroeër teen die myn gekant was.

Die groen lig wat die mynmaatskappy nou gekry het om met uitgrawingswerk te begin, het vrae laat ontstaan oor myneienaars se moontlike politieke invloed. Mwembeshi Resources Limited het in 2011 vir die eerste keer aansoek gedoen om mynregte in die park te verkry en ’n omgewingsimpakstudie ingedien.

Die Zambië-omgewingsbestuursagentskap (Zema) het dié studie verwerp. Die mynmaatskappy het egter appèl aangeteken en in 2014 het die Zambiese regering die aansoek vir die Kangaluwi-kopermyn op nasionale parkgrond in die suidooste van Zambië goedgekeur.

Laer Zambezi is ’n belangrike deel van die breër Zambezi-kom – ’n noemenswaardige gedeelde hulpbron wat bydra tot die ekonomiese, omgewing- en maatskaplike ontwikkeling van Suider-Afrika.

In 2014 het die Laer Zambezi- toerismevereniging (LZTA) gewaarsku dat die voorgestelde myn die Zambiese ekonomie miljarde dollar per jaar aan buitelandse investering en plaaslike inkomste gaan kos.

Ganse ekostelsel dalk in gedrang

Volgens die toerismevereniging gaan die myn ’n ekostelsel vernietig wat die tuiste van 124 dier-, 403 voël- en 54 waterspesies is. Die vereniging voer ook aan die myn is nie lewensvatbaar nie. Dit is ook só in ʼn verslag daaroor saamgevat.

“Modelleringsyfers wys dat die projek nie ekonomies lewensvatbaar is nie, tot ʼn netto verlies aan werksgeleenthede vir plaaslike gemeenskappe sal lei, en ’n finansiële verlies van minstens $13 miljoen (meer as R250 miljoen) oor die eerste sewe jaar van bedrywighede sal veroorsaak,” lui LZTA se verslag.

Uitgrawings het begin vir ’n groot oopgroefkopermyn in die Laer Zambezi- nasionale park in Zambië. (Foto: GroundUp)

“Plaaslik sal die projek ’n minimum van $5 miljoen se NRO-beleggings in gemeenskapsontwikkelingsprogramme vir die bestuur van beskermde gebiede in die gedrang stel.

“In geld gemeet is die moontlikheid groot dat mynbou in beskermde gebiede ’n negatiewe uitwerking op internasionale hulpbeleggings sal hê, waarop Zambië sterk steun en jaarliks ​​meer as $1 miljard (meer as R19 miljard) ontvang.”

Met LZTA se verslag, tesame met besware en bevindings deur ’n koalisie van aktiviste, is ʼn hofbevel in 2014 bekom om die myn te keer. Agt jaar later het Mwembeshi Resources egter die regte om te myn suksesvol verkry.

Die maatskappy verwerp kommer oor die uitwerking van die myn en sê dit is ʼn teken van vooruitgang en werkskepping – wat gemeenskappe volgens die mynmaatskappy steun.

Mwembeshi Resources wou egter nie aan GroundUp bevestig of ontken dat werk aan die myn wel begin het nie.

“Jou vrae is so spesifiek en dit lyk of jy nie belangstel in belangriker dinge oor die myn nie, soos die waarde, werk, voordele of die groot steun wat die myn van die plaaslike gemeenskap ontvang nie,” het Oliver Shalala, Mwembeshi Resources se kommunikasie- en korporatiewe sakebestuurder, by navraag gesê.

‘Swart Zambiërs’ steun projek

Hy sê die myn geniet aansienlike steun onder “swart Zambiërs”.

“Dit is die wit lodge-eienaars, wat bekend is dat hulle by onwettige mynbou en stropery in die Laer Zambezi betrokke is, wat die myn op grond van onwaarhede, halwe waarhede en verkeerde aannames teenstaan,” het hy gesê.

Shalala voer verder aan dat enigiemand wat teen die projek gekant is of daaroor skryf, net hul tyd mors “omdat Zambië ontwikkeling nodig het, en nie politiekery nie”.

Stephen Malenga, die raadsekretaris van die Luangwa-distrik waar die myn geleë is, het bevestig dat werk aan onder meer paaie vir die myn reeds begin het.

“Ek het in April ’n span wat verantwoordelik is vir inkomste-invordering [by die raad] na Laer Zambezi gestuur om feite oor die myn in te win nadat ek gehoor het dit is in werking,” het Malenga gesê.

“Wat hulle bevind het, is dat daar aan paaie gewerk en kantoorblokke gebou word, maar dit is nog nie afgehandel nie. ’n Landingstrook is ook by die myn gebou.”

Die voorgestelde myn is ’n oopgroefmyn wat die uitgrawing van ’n groot oop gat of ’n reeks putte behels. Dit word geleidelik verdiep en uitgebrei om die gewenste mineraal te onttrek – in hierdie geval koper.

Oopgroefmynbou behels tipies die gebruik van swaar toerusting soos stootskrapers, uitgrawers en vragmotors om materiaal te verwyder en die mineraalafsetting bloot te lê.

Bergingsfasiliteite word gebruik om die afvalmateriaal te stoor wat deur mynbedrywighede gegenereer word. Hierdie afvalmateriaal, ook gevaarlike chemikalieë, word in damme gestoor wat naby die myn gebou is.

Enige lekkasies of foute kan die hele ekosisteem bedreig.

Hoewel die Wet op Myne- en Minerale-ontwikkeling (2008) en Zambië se Wet op Natuurlewe (1998) voorsiening maak vir mynbou binne nasionale parke, is daar geen beleid of wetlike raamwerk wat die implementering, monitering en versagting reguleer oor die uitwerking van mynbou nie, soos om volledige terreinrehabilitasie te verseker.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Nommer 7 ·

Doodreg, Wat het van al die wilde diere geword wat regoor ons land vrylik rondgeloop het. Wie het hierdie diere totaal en al uitgeroei, alles vir geld.

Blom ·

Dit is bitter hartseer. Eendag sal daar geen natuur meer oor wees nie en dan gaan dit te laat wees om lang trane te huil oor wat verwoes is.

Di ·

Lyk my hulle dink net soos ons ANC kaders – Sien net geld ten koste van die skade wat hulle aanrig

Miena ·

Ek is self n myner en ek moet eerlikwaar toegee – hierdie is n skande. Dis n klap in die gesig van Omgewings Departemente en wat n slegte klad op die naam van mynwese los.

Elma ·

Dis verskriklik. Arme “Wit man in Afrika” kry weer die skuld. Verstommend.

Milestone ·

Dis ongelukkig die maklike antwoord om alles te regverdig……oor en verby.

Delia ·

Ons sal dalk verbaas wees om te hoor hoe baie blankes wel by alles in Afrika betrokke is, oorloë ens. SA, Engeland, Amerika

Miskruier ·

Daai koper word na ons hawens vervoer, nog meer trokke wat die paaie vernietig.

Niklaas ·

Ek sal nie verbaas wees as daar groot geld onder die tafel oorhandig was aan politici daar nie. Iemand het heelwat ryker geword hieruit toe geld van hande verwissel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.