Stromingsreuse neem voortou met Golden Globes-benoemings

Die akteurs van die tweede seisoen van “The White Lotus”. (Foto: Amy Sussman/Getty Images North America/AFP)

Die benoemings vir die 80ste jaarlikse Golden Globes-toekennings is Maandag bekendgemaak.

Die tragiese komedie The Banshee of Inisherin met Colin Farrell en Brendan Gleeson, is een van die voorlopers met agt benoemings in die sak. Die wetenskapsfiksie Everything Everywhere All at Once is kort op sy hakke met ses benoemings.

Stromingsdienste soos Disney+, Netflix en HBO het egter die voortou geneem met benoemings, met talle rolprente en reekse wat deur dié dienste vervaardig en uitgereik is.

Rolprente

The Fablemans, Steven Spielberg se semi-outobiografiese rolprent oor sy kinderdae, Babylon en Elvis het elkeen vyf benoemings losgeslaan.

Michelle Williams is vir haar rol in The Fablemans as beste aktrise in ’n rolprent benoem. Cate Blanchett (Tár), Olivia Colman (Empire of Light), Viola Davis (The Woman King) en Ana de Armas (Blonde) het ook benoemings in dié kategorie ontvang.

Links is Elvis Presley soos hy in 1964 gelyk het en regs is Austin Butler wat die rol van Presley vertolk het. (Foto: AP)

Austin Butler (Elvis), Brendan Fraser (The Whale), Hugh Jackman (The Son), Bill Nighy (Living) en Jeremy Pope (The Inspection) gaan dit in die beste akteur in ’n rolprent-kategorie uitspook.

Die Golden Globes het afsonderlike fliekkategorieë om die akteurs en aktrises in komedie- en musikale rolprente te beloon. In die kategorie vir beste aktrise in een van dié rolprente, is Lesley Manville (Mrs Harris goes to Paris), Margot Robbie (Babylon), Anya Taylor-Joy (The Menu), Emma Thompson (Good Luck to You, Leo Grande) en Michelle Yeoh (Everything Everywhere All at Once) benoem.

Diego Calva (Babylon), Daniel Craig (Glass Onion: A Knives Out Mystery), Adam Driver (White Noise), Colin Farrell (The Banshee of Inisherin) en Ralph Fiennes (The Menu) het benoemings vir die beste akteur in ’n komedie- of musikale rolprent ontvang.

James Cameron het ’n benoeming losgeslaan vir die regie van Avatar: The Way of the Water. In dié kategorie ding hy teen onder meer Steven Spielberg (The Fablemans) mee.

Guillermo del Toro se Pinocchio, Inu-Ohm, Marcel the Shell with Shoes on, Puss in Boots: The Last Wish en Turning Red is vir die beste animasie-rolprent van die jaar benoem.

Reekse

The Crown, House of the Dragon, Better Call Saul, Ozark en Serverance het elkeen ’n benoeming vir die beste dramareeks ontvang.

Imelda Staunton as koningin Elizabeth II. (Foto: Facebook/The Crown)

Emma D’Arcy (The House of the dragon), Laura Linney (Ozark), Imelda Staunton (The Crown), Hilary Swank (Alaska Daily) en Zendaya (Euphoria) ding mee om die toekenning vir die beste aktrise in ’n dramareek.

Die beste akteur in ’n dramareeks sal aan een van die volgende akteurs gaan: Jeff Bridges (The Old Man), Kevin Costner (Yellowstone), Diego Luna (Andor), Bob Odenkirk (Better Call Saul) of Adam Scott (Severance).

The Bear, Abbott Elementary, Hacks, Only Murders in the Building en Wednesday is benoem vir die beste komedie- of musikale reeks.

Black bird, Dahmer – Monster: The Jeffrey Dahmer Story, The Dropout, Pam & Tommy en The White Lotus is in die kategorie vir beste beperkte reeks of rolprent benoem.

Vir die volledige benoemingslys, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wendy ·

Sou net lekker gewees het as mens iets op netflix kon kyk wat geen vloekwoorde of die naam v Jesus as n skelwoord ,in het nie, maar goeie prente moet jy na vyf min se kyk afsit want jou ore kan dit nie hou nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.