Stropers vas oor bekende gorilla Rafiki se dood

Argieffoto van Rafiki, ʼn silwerrug en leier van die Nkuringo-gorillagroep in Uganda se Bwindi- nasionale park (Foto: @ugwildlife/Twitter)

Die Ugandese natuurowerheid (UWA) het vier stropers in hegtenis geneem in verband met die afsterwe van Rafiki, ʼn bekende silwerrug gorilla.

UWA het Saterdag gesê die stropers is in die suidelike deel van Bwindi- ondeurdringbare nasionale park (BINP), naby die land se grens met Rwanda en die Demokratiese Republiek van die Kongo, aangekeer.

Rafiki is aanvanklik op 1 Junie as vermis aangemeld. ʼn Soektog is van stapel gestuur en sy karkas is op 2 Junie in Hakato, BINP, gevind. ʼn Nadoodse ondersoek het bevind die silwerrug is beseer deur ʼn skerp voorwerp wat links in sy bors ingedruk is en sy inwendige organe beskadig het.

UWA het tydens die ondersoek ʼn verdagte in hegtenis geneem wat ʼn spies, tou, draadstrik, hondejagklokkie en bosvarkvleis in sy besit gehad het. Die verdagte is ʼn inwoner in die Kisoro-distrik, suid van BINP.

Die verdagte het gesê hy het saam met ʼn ander beweerde stroper gejag en hulle het Rafiki uit selfverdediging met ʼn spies doodgemaak toe die gorilla hulle bestorm het. Nog twee persone is geïmpliseer toe die man erken het hy het bosvarkvleis met twee ander persone gedeel.

Die vier verdagtes is almal in aanhouding by Kisoro-polisiestasie en is verhoorafwagtend.

BBC berig hulle kan lewenslange tronkstraf opgelê word of ʼn boete van US$5,4 miljoen (byna R92 miljoen) indien hulle skuldig bevind word op aanklag dat hulle ʼn bedreigde dier doodgemaak het.

Voglens UWA se verklaring was Rafiki die leier van die Nkuringo-gorillagroep, die eerste groep wat 23 jaar gelede, in 1997, suksesvol in BINP gevestig is.

“Rafiki se afsterwe laat die gorillagroep onstabiel. Die moontlikheid bestaan dat die groep kan ontbind,” het Bashir Hangi, woordvoerder van die UWA, verduidelik. “In hierdie stadium het die groep nie ʼn leier nie en ʼn wilde silwerrug kan dalk oorneem.”

Die Nkuringo-gorillagroep het tans 17 lede, insluitend ʼn silwerrug (volwasse mannetjie), drie swartrûe (jonger, ondergeskikte mannetjies), agt volwasse wyfies, twee jong gorillas en drie babas.

Daar is net meer as 1 000 berggorillas oor en UWA het Rafiki se afsterwe as “‘n groot terugslag” beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JANINE ·

Ek beter op my hande sit … moor, plunder, verwoes en uitroei is aan die orde van die dag in Afrika …

JohanR ·

Feit bly dat Rafiki seker meer breins gehad as die vier stropers saam!

Die Wolf ·

Daar is nie salf aan te smeer vir diesulkes nie. Tronkstraf is te lig.

Helene ·

Interessant dat my kommentaar nie geplaas is nie. RIV Rafiki. Verlos van Planeet Aarde!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.