‘Stukkie glas’ toe ʼn bielie van ʼn diamant

Die sogenaamde “Evans Diamond” (Foto: Crater of Diamonds State Park)

Jerry Evans van Lepanto in Arkansas, VSA, het vroeër vanjaar die Crater of Diamonds-park in Murfreesboro besoek en eers onlangs ontdek dat hy ʼn 4,87 karaat diamant opgetel het.

Evans het die park vir die eerste keer in die lente saam met sy meisie besoek, het die park in ʼn verklaring gesê. Ná 10 minute in die park het hy ʼn stukkie helder glas opgetel. Hy het dit in sy sak gesteek saam met ʼn paar ander interessanthede en het teruggekeer huis toe.

“Ek het gedink dis sommer net ʼn stukkie glas, omdat dit so helder was. Ek het regtig nie geweet nie,” het Evans gesê. “Ons het alles opgetel wat ons gedink het dalk ʼn diamant kan wees.”

Hy het egter oor die stukkie glas bly nadink en gewonder of dit dalk waardevol kan wees. Hy het dit uiteindelik na die Gemmologiese Instituut van Amerika gestuur vir uitkenning. ʼn Paar weke later het hy van hulle teruggehoor. Dit wat hy gedink het is ʼn stukkie glas, was ʼn byna kleurlose diamant. “Ek kon nie glo toe hulle my met die nuus bel nie!”

Ná sy seun ʼn artikel oor ʼn vonds in die 1990’s in die park gelees het, het sy seun hom aangemoedig om die park te kontak oor sy vonds.

Wayman Cox, adjunk-superintendent by die park, het gesê hy kry baie e-posse van mense wat graag wil hê hy moet iets vir hulle identifiseer wat hulle opgetel het, maar dit is die eerste keer dat iemand hom kontak ná hulle die vonds by die Gemmologiese Instituut bevestig het. “Ek is baie bly dat mnr. Evans hierdie geskiedkundige diamant na die park kon terugbring sodat ons dit amptelik kan registreer.”

Evans se diamant is die grootste vonds wat by die park geregistreer word ná Kevin Kinard van Maumelle in 2020 ʼn bruin diamant van 9,07 karaat opgetel het. Evans se diamant is byna so groot soos ʼn “jellybean” en het ʼn piramide-vorm.

“Mnr. Evans se diamant is iets om te aanskou. Dit is ʼn volledige kristal met ʼn besonderse wit kleur,” het Cox bygevoeg.

Talle besoekers kies self die naam vir die diamante wat hulle by die Crater of Diamonds State Park optel. Evans het sy diamant die “Evans Diamond” gedoop.

Minstens 798 diamante, saam meer as 125 karaat, is reeds in 2023 by die park geregistreer. ʼn Gemiddeld van een of twee diamante word daagliks deur besoekers opgetel.

Altesaam 75 000 diamante is al by Crater of Diamonds opgetel sedert die eerste diamante deur John Huddleston, ʼn boer wat eers die land besit het, ontdek is. Die park is in 1972 tot ʼn staatspark verklaar. Die grootste diamant ooit in die VSA is in 1924 ontdek tydens vroeë mynboubedrywighede op die grond wat later die staatspark geword het.

Evans het die raad gevolg vir enigiemand wat ʼn besoek aan die Crater of Diamonds-park oorweeg: “Kom soek, want daar is ʼn kans. Hulle is daar!”

Die Crater of Diamonds State Park is op Arkansas-hoofweg 301 in Murfreesboro geleë. Dit is een van die enigste plekke in die wêreld waar die publiek vir regte diamante in hul oorspronklike vulkaanbron kan soek. Die park is daagliks oop van 08:00 tot 17:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.