Talle vas oor onrus in Zimbabwe

Foto: Xinhua

Foto: Xinhua

Die polisie in die Zimbabwiese hoofstad Harare het Maandag minstens 30 mense in hegtenis geneem ná verskaffers van openbare vervoer in sommige dele van die stad betrokke was in gewelddadige botsings met die polisie in protes teen padblokkades.

Charity Charamba, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is na die betrokke gebiede ontplooi.

“Wees gewaarsku om nie by gewelddadige aktiwiteite betrokke te raak nie. Ons het tot dusver ʼn paar oproerige elemente wat paaie in Ruwa en Mabvuku versper het in hegtenis geneem,” het sy gesê.

Die betogers het klippe en bande wat aan die brand gesteek is, gebruik om paaie wat na die middestad lei te versper. Hulle het gesê hulle sal geensins toelaat dat voertuie mense tot in die stad vervoer alvorens die polisie ophou om elke dag padblokkades op te rig nie.

Die betogers het ook geëis dat korrupte polisiebeamptes, wat omkoopgeld van motoriste eis, in hegtenis geneem word.

Foto: Xinhau

Foto: Xinhau

Betogings en onrus is in Ruwa, Zimre Park, Hatfield, Epworth en Mabvuku aangemeld, waar bestuurders paaie met klippe versper en voertuie wat mense na die stad toe vervoer, aangeval het. Sommige betogers het bande in die middel van die pad gebrand wat dit onmoontlik gemaak het vir voertuie onderweg stad toe om verby te kom.

In Epworth is twee polisiebeamptes erg aangerand deur ʼn woedende skare. Die polisie moes traangas en waterkanonne gebruik om die betogers uiteen te jaag.

Charamba het beweer die betogings word gelei deur misdadigers en politieke aktiviste wat onrus wou veroorsaak. “Die polisie het inligting en intelligensie oor die identiteit van sommige van die misdadiger-elemente wat vir die onrus verantwoordelik is. Ons het ons moniteringspanne ontplooi en alle oortreders sal in hegtenis geneem word,” het sy bygevoeg.

Foto: Xinhau

Foto: Xinhau

Charamba het ook gesê dat die veiligheidspadblokkades op die land se paaie ten doel het om die situasie te monitor.

Intussen het vervoerbedieners in Bulawayo Maandag ’n noodvergadering gehou en besluit dat hulle van 15:00 af dieselfde dag hul voertuie in protes teen beweerde polisiebrutaliteit op die paaie gaan parkeer.

Verskeie ander vervoerorganisasies het ingestem om nie hulle dienste beskikbaar te stel terwyl polisiepadblokkades steeds opgerig word nie. In ʼn verklaring het die vervoerbedieners gesê “geen verskaffers van openbare vervoer sal werk alvorens alle korrupte polisiebeamptes, wat aan ons bekend is, in hegtenis geneem is en binne die grondwetlik voorgeskrewe 48 uur voor die gereg gebring word nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lions ·

Dink julle dat daar ook ‘n derde mag betrokke kan wees soos wat bespiegel word in SA?

Ou Vlakvark ·

Waarskynlik sien ons binnekort ‘n nuwe Zimbabwe Animal Farm met ‘n nuwe naam en nuwe klein binnekring elite varke wat alleen by die krip wil vreet ter uitsluiting van die massa Zim skape. En dan begin die proses van selfverryking van vooraf. ‘n Nimmereindigende siklus. Die vraag is: “Wie is die nuwe klein binnekring elite?” Kom ons noem hulle die 7de Mag. Hulle het nog maskers aan.

Deon kotzee ·

Probeer om dalk die beamptes te betaal sodat hulle nie padblokades hoef op te rug om te oorleef nie. Moes deur 46 padblokades gaan op onlangse besigheids reis..

Theuns ·

Hoe is dit moontlik dat kriminele polisie beamptes kriminele elemente in die betogers brandmerk vir die verspering van paaie! Hulle versper dan self die paaie om ‘n paar Rand te maak? En dit is seker op aanbeveling van Rob Mugabe want hy kon nog nie sy Staats Amptenare, insluitend die Polisie en Weermag betaal nie! Nou wat is verkeerd daarmee? Niks behalwe dat die berig ‘n wanindruk skep! Afrika is mos ‘n continent waar reg verkeerd is en verkeerd reg! Die arme Robbie moes dan ook verbied dat goedere vanuit SA ingevoer word net sodat sy Amerikaanse dollars in die land bly.

Hendrik Havenga ·

Ja wat Afrika is in n gemors, die wereld is in n gemors, ons moet bid mense, bid.

Hasie ·

Hendrik, al bid wat gaan help is as ons maar net vir ons self bid.

jaco ·

Ek is geen ondersteuner van Mugabe nie, maar een ding doen hy goed: hy weet hoe om wet en orde te handhaaf. Vir die geringste wetteloosheid stuur hy die polisie, onluste-polisie en selfs die weermag in. Misdaadvlakke in Zimbabwe is BAIE laer as in Suid-Afrika

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.