Talle verrassings by ‘Billboard’-musiektoekennings

Taylor Swift tydens die bekendstelling van haar heropgeneemde album, Red. (Foto: Dimitrios Kambouris/Getty Images vir AFP)

Die donkerkop tienerster Olivia Rodrigo het gisteraand by nóg ʼn musiektoekenningsgeleentheid skoonskip gemaak.

Rodrigo (19) het Sondag tydens die Billboard-musiektoekennings sewe toekennings – waaronder “beste nuwe kunstenaar” én “beste vrouekunstenaar” – vir haar debuutalbum Sour ingepalm.

Dié geleentheid word sedert 1990 jaarliks aangebied deur Billboard – ’n Amerikaanse musiek- en vermaaktydskrif wat weekliks uitgegee word en trefferlyste sowel as nuus en resensies wat met die musiekbedryf verband hou, publiseer.

Die sterbelaaide geleentheid is vanjaar weer by die MGM Grand Garden Arena in Las Vegas, Nevada, aangebied met kletsrymer en vervaardiger Sean “Diddy” Combs as aanbieder.

Aanbieder Sean “Diddy” Combs. (Foto: Matt Winkelmeyer/Getty Images via AFP)

Benewens Rodrigo se sukses, het kletsrymer Drake ook geskiedenis gemaak nadat sy vyf toekennings Sondagaand hom die kunstenaar met die meeste Billboard-toekennings tot op hede gemaak het. Sy totaal staan tans op 34.

Die aand het ook ʼn paar interessante toekennings opgelewer.

Voormalige countrysanger en huidige popprinses Taylor Swift het tien jaar uit mekaar dieselfde toekenning vir dieselfde album ingepalm.

Swift het vanjaar vier van die ses toekennings waarvoor haar heropgeneemde country-albums Fearless en Red genomineer is, gewen. Haar heropgeneemde weergawe van Red het vanjaar onder meer “top-country-album” gewen, terwyl die oorspronklike weergawe in 2012 presies dieselfde toekenning ingepalm het.

Die 32-jarige treffermaker het in 2019 op die ontbytprogram Good Morning America aangekondig dat sy haar eerste ses albums wat sy onder haar vorige platemaatskappy Big Machine Records opgeneem het, gaan heropneem.

Swift, wat graag haar eie liedjies skryf, beweer sy het die platemaatskappybaas Scooter Braun gesmeek om die katalogus van haar eerste ses albums vir miljoene dollar oor te koop. Hy het dit egter van die hand gewys.

Janet Jackson. (Foto: Ethan Miller/Getty Images via AFP)

Haar 29 Billboard-toekennings maak haar dan ook die vrouekunstenaar met die meeste van dié toekennings.

Kanye West, wat nou ook net as Ye bekend staan, het ook “beste Christelike kunstenaar”, “beste gospelkunstenaar”, “beste gospel-album”, “beste gospellied” én “beste Christelike lied” vir liedjies van sy album Donda gewen.

Dié oorwinning kom te midde van die kletsrymer se morsige egskeiding met die televisierealiteitster Kim Kardashian, saam met wie hy vier kinders het. West is veral die afgelope jaar in die kollig oor verskeie aanvalle op Kardashian se nuwe vriend, die komediant Pete Davidson.

Janet Jackson, suster van ikoniese kunstenaar Michael Jackson, het ook Sondagaand ’n onverwagse verskyning gemaak om die Icon-toekenning aan R&B-sanger Mary J Blige te oorhandig.

Hier is ’n lys van wenners in die hoofkategorieë

  • Beste kunstenaar

Drake

  • Beste nuwe kunstenaar

Olivia Rodrigo

  • Top‑manskunstenaar

Drake

  • Top‑vrouekunstenaar

Olivia Rodrigo

  • Beste groep/duo

BTS

  • Beste stromingsdienskunstenaar

Olivia Rodrigo

  • Beste radiokunstenaar

Olivia Rodrigo

  • Beste R&B-kunstenaar

Doja Cat

  • Beste country-kunstenaar

Taylor Swift

Bronne: Billboard, The Hollywood Reporter

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.