Taylor, Travis se ‘Super Bowl-soen’ steel kollig

Taylor Swift en Travis Kelce het Sondag ʼn smeulende kus voor honderde kameras gedeel. (Foto: Ezra Shaw/Getty Images via AFP)

Die popsanger Taylor Swift se bloeiende romanse met die Kansas City Chiefs-voetbalster, Travis Kelce, het Sondag opnuut die kollig gesteel by die jaarlikse National Football League (NFL) Super Bowl-voetbalkampioenskap in Las Vegas, VSA.

Taylor en Travis het ʼn smeulende kus voor honderde kameras gedeel nadat die voetbalspeler se span die Super Bowl-trofee gelig het danksy hul oorwinning van 25-22 teen die San Francisco 49’ers.

Die “Anti-Hero”-sanger het Saterdagaand in Tokio, Japan, opgetree voordat sy op ʼn private straler gespring het om betyds te wees vir die NFL-kampioenskap se skouspelagtige finaal in Las Vegas.

Dit is die 13de wedstryd wat Taylor bywoon sedert sy en Travis in September verlede jaar ʼn paartjie geword het.

Die sogenaamde “Swift-effek” het die NFL sedertdien oorheers en sy TV-gehoor laat toeneem, veral onder jong vroue.

Die BBC berig die handelsmerkwaarde van die NFL en die Chiefs het sedert September verlede jaar met $331m (nagenoeg R6 miljard) verhoog.

Verkope van Travis se rooi Chiefs-voetbaltrui het ook met 400% toegeneem sedert Taylor die eerste keer in ʼn rooi pasgemaakte weergawe by ʼn NFL-wedstryd opgedaag het.

Bekendes soos die tennisster Andy Murray en die voormalige presidentsvrou, Hillary Clinton, het erkenning aan Taylor se impak op die voetbalgemeenskap gegee in hul gelukwense aan die Chiefs op sosiale media.

“Baie geluk aan Taylor Swift met die wen van Super Bowl 58! Wat ʼn wonderlike vertoning,” het Andy geskryf, terwyl Hillary eenvoudig in haar X-plasing na Travis as “Taylor Swift se kêrel” verwys het.

Hoewel Taylor se NFL media-aandag by Chiefs-wedstryde deur sommige aanhangers gekritiseer word, het bekendes soos Arnold Schwarzenegger en die Britse sanger Adele vir die popster in die bresse getree.

Adele, wat tans ʼn jaarlange konsertreeks in Las Vegas doen, het tydens ʼn onlangse optrede gesê diegene wat Taylor Swift se NFL-invloed slegsê “moet ʼn lewe kry”, terwyl Schwarzenegger haar invloed op Amerikaanse voetbal geprys het.

Hoewel die kollig grotendeels op haar en Travis was, was Taylor egter slegs een van talle bekendes om Sondag op Las Vegas toe te sak.

Die Amerikaanse hip-hop-sanger Usher. (Foto: Timothy A. Clary/AFP)

Beyoncé, sowel as haar man, die kletsrymer Jay-Z, en hul oudste dogter, Blue Ivy, het die skare met hul bywoning verras. Die sanger het hier ook die bekendstelling van haar nuwe album aangekondig.

The Beatles-sanger Paul McCartney en aktrise Blake Lively was ook onder die bekendes wat die geleentheid bygewoon het.

Die Amerikaanse hip-hop-sanger Usher het by die Super Bowl se bekende jaarlikse halftydvertoning opgetree en het bekendes soos Alicia Keys, will.i.am en Ludacris saam op die verhoog genooi.

Bronne: BBC, People, Variety.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die NFL moet natuurlik ook voorsiening maak vir milarde dollers se eise wat eendag sal inkom vir CTE.

George ·

Die is bewys dat entertainment grootter as sport is, agv Taylor het die viewership oor die hele seisoen gegroei

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.