Teen-inentingsgroep van Facebook, Instagram afgeskop

Argieffoto

Facebook en Instagram, wat onder die maatskappy Meta val, het Woensdag sonder enige waarskuwing ʼn teen-inentingsgroep se rekening van hierdie sosialemediaplatforms verwyder.

Die Children’s Health Defense (CHD) is een van die invloedrykste Amerikaanse teen-inentingsgroepe en het honderdduisende volgelinge op die platforms gehad.

Die groep is gestig deur Robert Kennedy jr., broerskind van wyle pres. John F Kennedy.

“Deur ons groep van die sosialemediaplatforms te verban, tree Meta op as ʼn surrogaat vir die federale regering se kruistog om alle kritiek op drakoniese regeringsbeleid stil te maak,” het Kennedy in ʼn verklaring, uitgereik deur die CHD, gesê.

Aaron Simpson, woordvoerder van Meta, sê die groep se Facebook- en Instagram-rekening is verwyder ná herhaalde oortredings van Meta se beleid oor die verspreiding van valse inligting.

In die CHD se verklaring het die groep ʼn skermgreep gedeel van boodskappe wat verklaar dat die rekeninge opgeskort is vir die oortreding van Meta se beleidstellings rakende “valse inligting wat tot werklike wêreldskade kan lei”.

Die CHD het aangevoer dat die verbod verband kan hou met ʼn regsgeding wat hy in Augustus 2020 teen Meta aanhangig gemaak het.

Hy beskuldig die tegnologiereus daarvan dat hy sy reg op vryheid van spraak skend deur op die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) te vertrou oor watter Covid-19-inligting wetenskaplik gesteun word. “Meta se sensuur is nie net ongrondwetlik nie, dit is ‘teen-Amerikaans’,” het Roger Teich, CHD-regsadviseur, gesê.

In ʼn appèlaansoek wat op 29 Julie in die Amerikaanse appèlhof ingedien is, het die CHD dokumente aan die hof verskaf wat uiteensit hoekom hy bepaalde Covid-19-inligting deur die CDC as “valse inligting” beskou. Die dokumente, getiteld Covid vaccine Misinformation: Hot Topics, is ook aan Facebook verskaf.

In die dokumente word die tegnologiereuse aangeraai om “op die uitkyk te wees” vir valse inligting oor verskeie onderwerpe, waaronder die afskeiding van sekere entstofkomponente in die menslike liggaam, verslae oor die stelsel waarvolgens ernstige newe-effekte aangemeld word en sogenaamde spitsproteïen-data.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Tante Toekie ·

Jy slaan die spyker op die kop. En teen hierdie tyd behoort mense te begin insien en verstaan hoe werk die sogenaamde media.

MA ·

Laat elke persoon maar vir hom/haarself besluit oor die entstof.

Antares ·

Dis nou te laat, die skade is reeds gedoen. Duisende dood agv covid wat nog kon geleef het as hulle ingeënt was.

Nici ·

Ook duisende disabled en dood agv die inenting wat afgedwing was.

domheks ·

Dankie Kennedy! Iemand moet die regerings se foute uitwys!

Cherokee ·

Volgens my denke sal covid vanaf middel volgende jaar nie meer bestaan nie.

Nici ·

Dis ‘n oortreding om nie met sekere groepe saam te stem nie. Vryheid van spraak is net beskore vir opinies wat mense met mag wil hoor.

Antie Sarie ·

Natuurlik sal Meta dit afskop. Want Meta het aandele in die sisteem

Pietertjie ·

Dit herinner my aan die fliek “Ideocracy” wat al in 2006 uitgereik is: ‘n toekomsblik…

Antie Sarie ·

Ek sou eerder betaal vir sosiale media waar vryheid van spraak gegeld het, as die diktatorskap van Meta wat gratis is. Alles wat gratis is, kom teen n prys

ENFM ·

Net soos die media gebruik is tydens die tweede wêreldoorlog om propaganda te versprei oor Jode, wat veroorsaak het dat gewone mense gruweldade gepleeg het, net so word propaganda nou deur hoofstroommedia en mega maatskappye, wat daarby kan baat en omkoopbaar is versprei. Byna 100 jaar gelede het sensorskap behels dat radios verbode was, nou behels dit dat jou sosiale media rekening gesluit word. Baie suksesvol ook, want kyk net hoeveel verdeeldheid dit wêreldwyd veroorsaak..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.