Tennisspeler ‘jammer’ oor handdruk met Russiese opponent

Die Oekraïnse tennisspeler Yelyzaveta Kotliar was in die moeilikheid nadat sy die Russiese speler Vlada Mincheva by die Australiese Ope geluk gewens het. (Foto: Skermgreep / X)

Een van Oekraïne se junior toptennisspelers was omtrent in die sop nadat sy die hand van haar Russiese opponent by die Australiese Ope in Melbourne geskud het.

Die 16-jarige Yelyzaveta Kotliar het intussen gesê sy is “innig jammer”.

Yelyzaveta se tennisfederasie was woedend omdat sy die Russiese speler Vlada Mincheva gelukgewens het nadat sy haar in die eerste ronde van die meisiestoernooi geklop het.

Die handdruk het ʼn ongeskrewe reël onder Oekraïners oortree om nie hul Russiese en Belarussiese opponente geluk te wens terwyl die oorlog in hul tuisland voortwoed nie.

Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne sal teen Februarie al twee jaar aan die gang wees.

Die Oekraïense tennisfederasie het die voorval as “onaangenaam” beskryf en sy standpunt herhaal dat Oekraïense tennisspelers nie die blad van “aggressorlande” se verteenwoordigers mag skud nie.

“Ons hoofspelers is hieroor ingelig en ondersteun ons posisie,” het die federasie in ʼn verklaring gesê. Die federasie het bygevoeg dat wat Yelyzaveta gedoen het, ʼn “fout” was.

Yelyzaveta se pa, Konstantin, het intussen vir sy dogter in die bresse getree en gesê dat sy “nie helder gedink het in die druksituasie waarin sy was nie”.

Yelyzaveta Kotliar (16) van Oekraïne. (Foto: Instagram / Yelyzaveta Kotliar)

“Sy is net 16 jaar oud en het geen werklike ervaring van groot toernooie soos ʼn Grand Slam nie – die hoogtepunt van professionele tennis én jeugtennis,” het hy namens haar in ʼn verklaring gesê.

“Sy het bloot ʼn na-wedstryd-ritueel uitgevoer deur die hand van ʼn opponent te skud. Sy het nie verstaan dat die opponent aan die ander kant van die net ʼn verteenwoordiger is van ʼn land wat ons tuisland aangeval het nie.

“Dit was beslis ʼn fout waarvoor sy innig jammer is. Sy het die versekering gegee dat so iets nooit weer sal gebeur nie.”

Die Oekraïense tennisspeler Dayana Yastremska (23), wat die Tsjeggiese speler Linda Noskova Woensdag vir ʼn plek in die semi-finaal geklop het, het Yelyzaveta verdedig toe sy vir kommentaar oor die voorval genader is.

“Ons Oekraïners het ons posisie: Ons skud nie hande nie. Maar ek dink sy is nog bietjie jonk en onervare. Dit kan met enigiemand gebeur.

“Ek kan haar nie oordeel nie, want ek weet nie wat in haar gedagtes aangegaan het nie. Was dit opsetlik of onopsetlik? Ek weet nie. Maar ek is seker sy staan by Oekraïne, en dat sy net te emosioneel en verward was.”

Nóg ʼn Oekraïense vrouespeler, Lesia Tsurenko, het vroeër in die toernooi gesê die weiering om Russiese en Belarussiese opponente se hande te skud, het deel geword van spelers se protes teen Rusland.

“Dit dien as nog ʼn herinnering dat daar ʼn oorlog in my land woed …

“Dis die regte ding om te doen en ek doen dit vir Oekraïne.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Robert ·

Belaglik dat sportmangees gedemp word net omdat politici nie saamstem nie.
Wys jou hoe erg die propoganda is.

koos10 ·

Plaas dat Rusland en Oekraraine leer by die twee, maar nee, politiek sal eerder ‘n meisie breek.

Sandra ·

ai tog, los die politiek uit die sport uit! Hulle trek ‘n SA op hulle self, of volg ons in hulle spore?

Surizaru ·

Ek stem nie saam met hierdie “ongeskrewe reël” nie. Dis nie asof daardie arme Russiese speler noodwendig pro-oorlog is nie. Ek sou eerder dink hulle moet vir hul onderskeie regerings wys dat die “man op straat” beter is as die politici.

Ny ·

Daar is egter erger dinge as n handdruk…sien niks fout daarmee nie. Dis goeie maniere…oorlog of nie.

Bolandse Nooi ·

“Bottomline” – in vandag se oe-so-vreeslik-sensitiewe lewe … MOENIE IEMAND SOEN, DRUK OF HANDSKUD NIE!!! Daar sal ALTYD iemand wees wat ‘n “issue” daarmee het.

JohanR ·

Arme meisie. Maar net gedoen wat natuurlik kom as jy wen of verloor. Jy skud iemand se blad om te se wel gadaan ou maat.

Jax ·

Dit is nou regtig n stupid reël! Dit bewys net weer dat sport deur die politiek gereël en bestuur word. Erens moet daar n streep getrek word. Dit is goeie maniere om blad te skud na n wedstryd. Dit is die probleem met hierdie wêreld – geen maniere en geen respek vir mekaar!

Johan Botha ·

As hulle dan nie ‘n opponent kan geluk wens omdat dié jou in ‘n sportwedstryd geklop het, dan moet jy in die eerste plek nie deelgeneem het nie!

Anel ·

Hoe kan dit van haar verwag word? Mens probeer goeie sportmanskap by jou kinders tuis bring, dan besluit ‘n regering anders!!! Hou politiek uit dport. En as julle so kwaad is vie mekaar moet dan nie teen mekaar deelneem nie!!!

Karina ·

Dit is vir my merkwaardig dat in ‘n gees van sport, die hand gegee word in vriendskap. Ag nee, politiek en sport pas nie! Laat sportsmense sleg hul in lewe in hul sport en daar meeding, sonder enige politieke invloed. Dit is ‘n ‘maak my siek fabriek” die politiek en sport. Tsjek ek seg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.