‘The Blind Side’-ster sê aanneemouers het hom bedrieg

Die plakkaat van ‘The Blind Side’. (Foto: IMDb)

Michael Oher, ʼn afgetrede Amerikaanse voetbalster wat bekendheid verwerf het toe ʼn Hollywood-fliek, The Blind Side, oor hom gemaak is, se inspirerende pad tot sukses het van koers verander.

Volgens ʼn hofaansoek wat vroeër vandeesweek aan die lug gekom het, beweer Oher (37) dat hy nooit deur Sean en Leigh Anne Tuohy aangeneem is nie, maar onder voogdyskap geplaas is. Hy beweer ook dat hy in daardie stadium van sy lewe deur die egpaar bedrieg is, en dat hulle intussen munt op sy lewensverhaal geslaan het.

Daar is in 2006 ʼn boek oor Oher geskryf en in 2009 is The Blind Side, waarin Sandra Bullock as Leigh Anne Tuohy te siene is, uitgereik. Dit vertel die lewensverhaal van ʼn seun wat uit pleegsorg gered is, en gegroei het tot ʼn suksesvolle atleet. Vandag beweer Oher dat dié fliek een van die redes is waarom hy sy voogdyskap wil beëindig.

“Waar ander ouers van Michael se klasmaats hom as ʼn oulike kind wat swaarkry gesien het, het die Tuohy-gesin iets anders gesien: ʼn jong man wie se atletiese talent uitgebuit kon word vir hul eie voordeel,” beweer die 26 bladsy-dokument wat vroeër vandeesweek in Shelby County, Tennessee, by die hof ingedien is.

Die dokument beweer verder dat die gesin hom in 2004 as tiener ingeneem het en hom laat glo het dat hulle hom wil aanneem. In daardie stadium het hulle na bewering vir hom verduidelik dat voogdyskap ʼn term is wat gebruik word vir die aanneming van iemand ouer as 18.

Die Touhy-egpaar het nadat hy destyds die voogdyskap-kontrak geteken het, volle beheer oor al sy kontrakte gehad, ten spyte daarvan dat hy nie enige geestelike of fisieke gestremdhede gehad het nie.

Volgens die aansoek, het Oher in Februarie vanjaar uitgevind dat hy as’t ware nie deur die Touhy-gesin aangeneem is nie, en dat daar geen bewyse bestaan dat hy hul aangenome seun is nie.

Daar word ook beweer dat enige vorm van vergoeding wat vanuit die fliek en boek oor Oher se lewe gevloei het, deur die Tuohy-egpaar en hul twee biologiese kinders gedeel is. Hy beweer dat hy nie ʼn sent van die fliek of boek se miljoene gesien het nie.

Hy het nie net aansoek gedoen om sy jarelange voogdyskap te beëindig nie, maar ook om geregtelik vergoed te word, en om te voorkom dat die gesin in die toekoms verder uit sy naam of verhaal munt kan slaan.

Die Tuohy-gesin en die akteurs wie hulle vertolk het tydens die première van “The Blind Side” in 2009. (Foto: Stephen Lovekin/Getty Images North America/AFP)

Sy aanneempa het aan die Daily Memphian, ʼn plaaslike Amerikaanse koerant, gesê dat hy teleurgesteld in die aansoek is.

“Ons sal Michael op 37 net soveel liefhê soos wat ons hom op 16 liefgehad het.”

Oher het ná skool by die Universiteit van Mississippi studeer, waar hy uitgeblink het as voetbalspeler. Hy het daarna vir agt seisoene vir die Ravens by die National Football League (NFL) uitgedraf.

Hy het ook al voorheen sy misnoeë uitgespreek met hoe hy in The Blind Side vertolk is, en dat hy “dom” in die bekroonde fliek voorgekom het. Hy glo ook dat dié vertolking ʼn beduidende invloed op sy loopbaan as atleet gehad het.

“Ek is moedeloos oor die openbaring wat in die aansoek gemaak is,” het Oher in ʼn onlangse verklaring gesê.

“Dit is ʼn baie moeilike tyd en situasie vir my en my gesin. Ek wil graag vra dat mense ons privaatheid respekteer. Vir nou, sal ek dat die hofsaak vir homself praat.”

Bykomende bron: BBC News 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Charmain ·

No good deed goes unpunished…hoop van harte hy gaan dan ook die familie wat hom ingeneem het, n dak oor sy kop, kos en liefde gegee het, vergoed vir alles wat hulle op hom spandeer het.

Jack Russ1 ·

Laat ons maar eers wag en hoor wat die hof sê voor ons hom veroordeel.

Indien hulle hom bedrieg het en hy nie sy gedeelte ontvang het uit die boek en fliek nie, dan het hy seker die reg om dit te eis

Ockert ·

Daar’s hy!! Sy geld is 10-1 nou klaar en nou wil hy die mense wat hom uit die gutters gehaal het, dagvaar. Tipies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.