TikTok gaan moontlike verbod met mening beveg

Argieffoto (AP Photo/Mark Schiefelbein, File)

Shou Zi Chew, uitvoerende hoof van TikTok, het Woensdag onderneem om in die howe te veg om ʼn nuwe Amerikaanse wet om te keer wat die app in die VSA kan verbied.

Die wetgewing gee TikTok nege maande om aan sy Chinese moedermaatskappy ByteDance te onttrek of uit die Amerikaanse mark gesluit te word.

Amerikaanse en ander Westerse amptenare beweer dat die sosialemediaplatform Beijing toelaat om data in te samel en op gebruikers te spioeneer. Dit het 170 miljoen gebruikers in die VSA en baie van hulle is jonk.

Kritici sê TikTok is ook ʼn kanaal om propaganda te versprei. China en die maatskappy ontken die bewerings egter ten sterkste.

“Maak geen fout nie, dit is ʼn verbod. ʼn Verbod op TikTok en ʼn verbod op jou en jou stem,” het Chew gesê in ʼn video wat op die app geplaas is kort nadat die wetsontwerp Woensdag deur Amerika se president Joe Biden onderteken is.

Die wetgewing gee ByteDance nege maande om die app te verkoop, met ʼn moontlike verlenging van drie maande indien ʼn transaksie reeds aan die gang is.

Doen hy dit nie, sal die app uitgesluit word van Apple en Google se winkels in die VSA.

“Wees verseker, ons gaan nêrens heen nie,” het Chew in die video gesê. “Die feite en die grondwet is aan ons kant en ons verwag om weer te seëvier.”

Chew het die stap as “ironies” bestempel, aangesien die vryheid van uitdrukking op TikTok dieselfde Amerikaanse waardes weerspieël wat van die Verenigde State ʼn baken van vryheid maak.

Die wetsontwerp kan beteken ʼn maatskappy kan verbied word om in die Amerikaanse mark sake te doen.

Voor die stemming oor die wetsontwerp het die FBI se direkteur, Christopher Wray, gesê dat ByteDance aan die Chinese onderdanig is, dat dit die VSA se kunsmatige intelligensie probeer steel en daagliks by Amerikaanse tegnologie probeer inbreek.

Dan Ives, Wedbush-ontleder, meen moontlike kopers vir TikTok kan insluit Microsoft of Oracle.

TikTok is al jare lank in die visier van Amerikaanse owerhede wat meen die platform laat Beijing toe om deur gebruikers in die VSA se bedrywighede te snuffel.

Die wetgewing gee ook aan die Amerikaanse president die gesag om te besluit oor ander apps as ʼn bedreiging vir nasionale veiligheid indien dit beheer word deur ʼn land wat as vyandig beskou word.

Elon Musk, miljardêr-eienaar van X, het verlede week teen die moontlike verbod op TikTok standpunt ingeneem en gesê die stap sou “in stryd wees met vryheid van spraak en uitdrukking”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theo ·

Wat meer “ironies” is Mnr Chew (en die doodstil media!), is dat Sjina Google, Youtube, Facebook, Wikipedia, Reddit, Netflix, Zoom, Instagram, Whatsapp, Spotify, X (Twitter), LinkedIn, BBC, Reuters, en honderde ander apps ook VERBIED het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.