Tornado tref Nederland

(Foto: @Klaaswillemb/Twitter)

ʼn Seldsame tornado in die kusdorp Zierikzee in die suidweste van Nederland het Maandag minstens een persoon se lewe geëis. Minstens 10 persone het beserings opgedoen.

Die tornado het ʼn spoor van verwoesting agtergelaat. Die dakke van vier huise is afgewaai en die voorkant van een huis het ineengestort, het die Zeeland- provinsiale veiligheidsowerheid in ʼn verklaring gesê.

“Ongelukkig was daar een sterfte. Minstens 10 persone is beseer. Nooddienste probeer steeds die omvang van die skade bepaal. Daar is beduidende skade in verskeie strate in Zierikzee.”

Dakteëls is ook van ʼn kerkgebou afgeruk en trampoliens het deur die lug getrek, het die Nederlandse openbare uitsaaier NOS berig.

Foto’s op sosiale media wys hoe puin deur die lug trek.

Nooddienste het mense versoek om van die gebied weg te bly en nie die werk van die polisie of die brandweer te verhinder nie.

Nederland ervaar ʼn paar tornado’s elke jaar, maar die laaste noodlottige tornado was in 1992, berig NOS.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.