Transgender-vroue verban van vroueatletiek

Ter illustrasie.. (Foto: Wang Lili, Xinhua)

Transgender-atlete sal nie meer toegelaat word om aan baan- en velditems vir vroue deel te neem nie, ongeag hul vlakke van testosteroon.

Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek, het gesê geen transgender-atleet wat deur manlike puberteit gegaan het, sal vanaf 31 Maart toegelaat word om aan vroue-wêreldranglyskompetisies deel te neem nie.

Volgens Coe is die besluit geneem nadat Wêreldatletiek met verskeie belanghebbendes, insluitend 40 nasionale federasies, die Internasionale Olimpiese Komitee en transgroepe, oor die kwessie van transgender-atlete geraadpleeg het.

“Die meerderheid van diegene wat geraadpleeg is, het gesê dat transgender-atlete nie in die vrouekategorie moet meeding nie,” het hy gesê.

“Baie glo daar is onvoldoende bewyse dat transvroue nie voordeel bo biologiese vroue behou nie en wil meer bewyse hê dat enige fisieke voordele versag is voordat hulle bereid is om ’n opsie vir insluiting in die vrouekategorie te oorweeg. Ek glo die besluit wat ons geneem het, is in die belang van ons sport.”

Hy het gesê ’n werkgroep onder leiding van ’n transgender-persoon sal op die been gebring word om wetenskaplike verwikkelinge verder te monitor.

“Ons sê nie vir altyd ‘nee’ nie. Besluite is altyd moeilik wanneer dit botsende behoeftes en regte tussen verskillende groepe behels, maar ons gaan voort om die standpunt in te neem dat ons regverdigheid vir vroue-atlete bo alle ander oorwegings moet handhaaf.”

Wêreldatletiek het ook regulasies gewysig wat atlete insluit wat as DSD geklassifiseer is, met ander woorde met “verskille in seksuele ontwikkeling”.

Die mees hoëprofiel-DSD-atleet is Suid-Afrika se Olimpiese 800 m-kampioen Caster Semenya.

Kragtens die nuwe regulasies sal DSD-atlete, om in die vroulike kategorie te kan deelneem, hul hoeveelheid bloedtestosteroon tot onder 2,5 nanomol per liter moet verminder van die huidige vlak van vyf, en vir twee jaar onder hierdie drempel moet bly en nie net een jaar soos nou die geval is nie. Die gemiddelde vlak van testosteroon by vroue is tussen 0,5 en 2,4 nmol/l.

Wêreldatletiek se uitspraak volg op dié van FINA, swem se wêreldbeheerliggaam, wat transgender-swemmers wat deur manlike puberteit gegaan het, verbied om aan vroue se elite-byeenkomste deel te neem.

Wêreldrugby was in 2020 die eerste internasionale sportfederasie wat beslis het dat transgender‑vroue nie op die elite- en internasionale vlak van die vrouespel mag meeding nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.