Trop olifante keer ná jaar terug huis toe

Die olifante het na 17 maande eindelik na die natuurreservaat teruggekeer (Foto:
ZouYue, Twitter)

’n Trop van 14 wilde Asiatiese olifante wat meer as 700 km van ʼn natuurreservaat in Yunnan, China, migreer het, is eindelik weer tuis ná ’n reis van 17 maande lank. Die olifante se reistog het internasionaal aandag getrek en plaaslike inwoners op hol gehad.

Maroela Media het vroeër berig die trop het sy reis in Maart verlede jaar, tydens die Chinese lente, begin en sedertdien winkels geplunder, miljoene rand se gewasse vernietig en duisende inwoners uit hul huise gejaag.

BBC berig meer as 150 000 inwoners is tydens die trop se terugtog gevra om hul huise tydelik te ontruim wanneer die olifante nedersettings genader het.

Meer as 25 000 polisiebeamptes het voertuie en hommeltuie gebruik om die trop se bewegings dop te hou.

Volgens die Independent het die trop teen 2 Junie die buitewyke van die provinsiale hoofstad Kunming bereik. Hulle het deur onder andere Mojiang, Yuanjiang, Shiping en E’shan beweeg voordat hulle by die Jinning-distrik in Kunming uitgekom het.

Pogings om hulle af te keer en na die Mengyangzi-natuurreservaat terug te stuur, het aanvanklik misluk, maar uiteindelik het die trop self omgedraai en huis toe gegaan.

Wan Yong, die hoof van die span wat die olifante monitor, het Maandag tydens ’n nuuskonferensie gesê die trop het die Yuanjiangrivier oorgesteek en beweeg in ’n suidwaartse rigting. Elektriese heinings, aas en kunsmatige paaie is gebruik om te verseker dat die diere die regte pad volg.

Die trop was teen Sondagaand 200 km weg van die natuurreservaat.

Kenners sê dit is onduidelik waarom die olifante hul gewone habitat verlaat het. Sommige reken dat ’n onervare leier die trop dalk op ’n dwaalspoor kon gelei het, terwyl ander meen dat die olifante op soek na ’n nuwe habitat kon wees.

Die Asiatiese olifant is ’n bedreigde spesie. China het slegs ongeveer 300 wilde olifante, wat hoofsaaklik in die suide van die Yunnan-provinsie woon, soos dié dwalende trop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Die Sjinese se verdiende loon dié teistering nà Sjina se massa-uitwissing van die diere en hul gulsige inwin van ivoor en ander wildedieritems om hul bygelofies in toormiddeltjies te voed. Kyk waar het die heerlike wet market se produkte ons laat beland.

Sarel ·

Jy kan seker sè welkkm tuis en hulle nie die Trop
Afgemaai het nie. Is daar niks aan hulle wat die Chinese
Gebruik soos Renoster se horings nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.