Turkye dalk weer stembus toe na verkiesingsdrama

Ondersteuners van pres. Recep Tayyip Erdogan in Ankara. (Foto: Adem ALTAN / AFP)

Turkye is in sy eerste verkiesingstryd gewikkel nadat pres. Recep Tayyip Erdogan Sondag oënskynlik misluk het om ʼn eersteronde-oorwinning in die land se parlementêre en presidensiële verkiesing te behaal.

Die finale uitslag is nog nie bekend gemaak nie, maar 99% van die stemme is in dié stadium reeds getel. Dit blyk egter dat nie Erdogan óf sy teenstander Kemal Kilicdaroglu ’n volstrekte meerderheid (50% van die stemme) in die eerste ronde behaal het nie.

Soos dinge nou staan, sal die Turke waarskynlik oor twee weke weer moet stem. Dit sal waarskynlik op 28 Mei plaasvind.

Die jongste syfers toon dat Erdogan 49,42% van die stemme ontvang het. Kilicdaroglu het 44,95% van stemme op hom verenig.

Albei kandidate het reeds aangedui dat hulle gereed is om weer na die stembus te gaan.

Erdogan het egter triomfantelik geklink toe hy sy ondersteuners Maandag kort ná middernag van ’n balkon in Ankara toegespreek het.

“Ek glo van harte dat ons in die komende vyf jaar sal aanhou om ons mense te dien,” het die 69-jarige Erdogan verklaar.

Kilicdaroglu is ewe selfversekerd.

“As ons nasie sê tweede ronde, sal ons absoluut in die tweede ronde wen,” het hy op sy beurt gesê. “Die wil vir verandering in die samelewing is hoër as 50%.”

Bronne: The Guardian, Al Jazeera, AFP, Anadolu Agency

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.