Twee leeus uit wildreservaat in Zambië gesteel

Argieffoto (Foto: Robert Greene/Pixabay)

Twee volwasse leeus en hul welpies is uit die Munda Wanga-wildreservaat in Zambië gesteel, vermoedelik deur handelaars, het die nuuswebwerf Zambian Watchdog berig.

Die handelaars het glo verlede week in ʼn privaat vliegtuig van Johannesburg in die land aangekom. Die vliegtuig het op ʼn vliegveld in Lusaka-Wes geland.

Die leeus is bedreigde diere en word beskerm onder die konvensie oor die handel in bedreigde fauna en flora (Cites) om te verhoed dat hulle kommersieel verkoop word. Die diere kan tienduisende dollar haal op die swartmark vir hul tande, vel en naels.

Zambian Watchdog berig die gesteelde diere is onwettig uit Zambië via Suid-Afrika na Oos-Europa vervoer waar hulle aan die hoogste bieërs – hoofsaaklik afkomstig van lande in Asië en die Midde-Ooste – verkoop is.

Sedert reservate groter hokke begin bou het wat die diere se natuurlike habitat reflekteer, is dit makliker vir diewe om na-ure toegang te bekom tot die diere.

Dit is glo nie die eerste keer dat diere uit Zambië gesteel word nie. Meeste gesteelde diere is seldsame, bedreigde of eksotiese diere wat groot pryse haal op die swartmark.

Lusaka Times berig die Zambiese regering het in Mei die verbod opgehef op die vangs en verskuiwing van wild van beskermde gebiede. Die verbod is in Oktober 2019 ingestel.

Volgens Zambian Watchdog is die verbod ingestel ná berigte dat uitlanders die diere in die hande kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.