Twee ton kokaien dryf aan Siciliaanse kus

Twee ton dwelms is in die see aan die Siciliaanse kus gevind. (Foto: Twitter / Daily Mail Australia / Guardia Di Finanza Press Office)

Meer as 400 miljoen euro (byna R8 miljard) se kokaïen is gevind waar dit in die see aan Sicilië se ooskus gedryf het.

Volgens die Italiaanse owerhede is die 70 pakke dwelms waarskynlik deur ʼn vragskip vir dwelmhandelaars agtergelaat om dit na die kus te bring.

Die polisie sê die dwelms, wat verpak was en ongeveer twee ton weeg, is een van die grootste besendings dwelms wat nog in Italië onderskep is.

Die pakkies, wat met ʼn opsporingstoestel toegerus was, is deur ʼn vloot-waarnemingsvliegtuig uit die lug opgemerk.

“ʼn Vragskip wat deur dié gebied gevaar het, het dit waarskynlik agtergelaat sodat handelaars dit daar kan opspoor,” het die polisie Maandag gesê.

Hoewel Sicilië die tuiste is van die Cosa Nostra-Mafia wat in die Godfather-rolprente verewig is, is die land se voorste georganiseerde misdaadgroep die ryk en magtige ‘Ndrangheta-sindikaat.

Die sindikaat is in die Calabrië-streek gesetel en is nou by dwelmhandel betrokke. Hulle beheer onder meer die grootste deel van kokaïeninvoere na Europa.

Daar is egter nog nie vasgestel aan wie die dwelms behoort of van waar dit afkomstig is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

O, hier kom groot moeilikheid!!! Baie mense kan nou doodgaan, eintlik vermoor word!

Vriendelike Frikkie ·

Dan is daar darem ‘n paar minder van die kartel.

MJLS ·

Hoop dit word baie vinnig vernietig voordat dit versprei kan word.

Lillian ·

Kry die gemors uit die water vóór die seelewe daaronder ly!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.