Twitter is ‘gevaar vir nasionale sekuriteit’, hoor kommissie

(Foto: @Twitter/Twitter)

Twitter het gebruikers en federale reguleerders mislei oor swakhede in sy vermoë om persoonlike data te beskerm, het die platform se voormalige veiligheidshoof in fluitjieblaser-getuienis gesê wat waarskynlik ʼn impak sal hê in die maatskappy se regstryd teen Elon Musk se oorname-bod.

In ʼn klag wat by die Amerikaanse Securities and Exchange Commission (SEC) ingedien is en Dinsdag gedeeltelik deur die Washington Post en CNN gepubliseer is, het Peiter Zatklo Twitter ook daarvan beskuldig dat die platform die getal geoutomatiseerde botte op die platform tot ʼn aansienlike mate onderskat – ʼn sleutelelement in Musk se verweer waarom hy sy aanbod van $44 miljard, om die platform te koop, onttrek het.

CNN haal Zatko se onthullings aan waar hy Twitter beskuldig van “nalatigheid en doelbewuste onkunde” en dat die maatskappy ʼn “gevaar vir nasionale sekuriteit en demokrasie inhou”.

Zatko, wat volgens Twitter vroeër vanjaar afgedank is weens swak prestasie, waarsku oor verouderde bedieners, sagteware wat kwesbaar is vir kuberaanvalle en uitvoerende hoofde wat poog om die getal kuberaanvalle weg te steek – vir Amerikaanse owerhede en die maatskappy se raad van direkteure.

Die voormalige kuberkraker, wat ook as “Mudge” bekendstaan, voer ook aan dat Twitter eerder daarop fokus om sy gebruikersbasis uit te brei as om te gemorspos en botte te bestry, aldus die berigte.

Volgens die Washington Post beskuldig hy veral die platform se baas, Parag Agrawal, dat hy in Mei in ʼn twiet “gelieg” het. Agrawal het in die plasing op Twitter gesê die platform “het baie sterk aanmoediging om soveel as moontlik gemorspos op te spoor en te verwyder”.

Twitter het die bewerings verwerp. ʼn Woordvoerder vir die maatskappy het Dinsdag aan AFP gesê Zatko is in Januarie vanjaar afgedank vir “ondoeltreffende leierskap en swak prestasie”.

“Wat ons tot dusver gesien het, is ʼn valse narratief oor Twitter en ons privaatheid- en dataveiligheidspraktyke wat deurtrek is met teenstrydighede en onwaarhede met ʼn gebrek aan belangrike konteks,” het die woordvoerder in ʼn verklaring gesê.

Die “opportunistiese tydsberekening” van die bewerings “blyk ontwerp te wees om aandag te trek en Twitter, sy gebruikers en aandeelhouers skade te berokken,” lui die verklaring. “Sekuriteit en privaatheid is nog altyd prioriteite vir Twitter en dit sal altyd só bly.”

Die kwessie van vals profiele is die basis van die regstryd tussen Twitter en Tesla-hoof Musk. Die miljardêr het herhaaldelik die maatskappy daarvan beskuldig dat hy nie eerlik is oor die getal vals profiele en gemorspos op sy platform nie.

Musk maak staat op die argument om sy besluit, om nie Twitter vir $44 miljard te koop nie, te regverdig en dus nie enige boete vir kontrakbreuk te betaal nie.

CNN sê Zatko was nie in kontak met Musk nie en hy het met die fluitjieblaserproses begin nog voor daar enige teken was dat die miljardêr by Twitter wou betrokke raak.

“Ons het reeds ʼn getuiedagvaarding vir mnr. Zatko uitgereik,” het Musk se prokureur, Alex Spiro, Dinsdag aan AFP gesê. “Ons dink dit is baie interessant dat hy en talle ander sleutelwerknemers die maatskappy verlaat het, in die lig van ons bevindings.”

Volgens die Washington Post en CNN wil die Amerikaanse senaat se intelligensiekomitee met Zatko vergader om sy beskuldigings te bespreek.

Zatko is laat in 2020 deur die stigter en voormalige baas van Twitter, Jack Dorsey, aangestel ná ʼn massiewe kuberaanval waar die profiele van gebruikers soos Joe Biden, Barack Obama, Kim Kardashian en Musk self geteiken is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.