Twitter skrap soektogte na Taylor Swift weens vals foto’s

Taylor Swift. (Foto: Amy Sussman/Getty Images North America/AFP)

Die sosiale mediaplatform, X (voorheen Twitter), het soektogte na Taylor Swift geblokkeer nadat eksplisiete foto’s van dié Amerikaanse popsanger, wat met kunsmatige intelligensie (KI) gegenereer is, op die webwerf begin sirkuleer het.

Die foto’s, wat deur CNN as “pornografies” beskryf word, is sedert 25 Januarie hoofsaaklik op X versprei en miljoene keer gedeel voordat dit verwyder is.

Een plasing het nagenoeg 47 miljoen kyke gehad voordat dit geskrap is.

Aanhangers van Swift, sogenaamde “Swifties”, het die verwydering van die beelde op X aangemoedig deur die hutsmerk #protectSwift te gebruik.

Joe Benarroch, X se sakehoof, het in ’n verklaring aan die BBC gesê die blokkering van soektogte na Swift is ’n “tydelike aksie om veiligheid te prioritiseer”.

Wanneer daar vir Swift op die webwerf gesoek word, verskyn ’n boodskap wat sê: “Iets het verkeerd geloop. Probeer herlaai.”

Die foto’s het X ook genoop om Vrydag ’n verklaring uit te reik waarin gesê word dat die plaas van nie-konsensuele naaktheid op die platform “streng verbode is”.

(Foto: Skermgreep/X)

Dié KI-krisis het selfs onder die aandag van die Amerikaanse Withuis gekom.

Karine Jean-Pierre, die perssekretaris van die Withuis, het die voorval “onrusbarend” genoem en bygevoeg dat die negatiewe impak van KI iets is waarop die Biden-administrasie fokus.

Die Screen Actors-vakbond (SAG-AFTRA) het ook ʼn verklaring oor die voorval uitgereik en gesê “die ontwikkeling en verspreiding van vals beelde – veral dié van ’n skadelike aard – sonder iemand se toestemming, moet onwettig gemaak word”.

Die vakbond het daarop gewys dat tegnologie van hierdie aard beter beheer moet word “voordat dit te laat is”.

Swift het nog nie self op nuus oor die foto’s gereageer nie.

Bronne: BBC, Billboard, CNN.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

electricmango ·

Ek is beslis ook n swifty, enige tyd. Beslis die top kunstenaar van alle tye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.