US-kenner deel van span wat nuwe dinosourus ontdek

Die grootste gedeelte van die jong dinosourus se skelet is gevind. (Foto: Verskaf)

ʼn Kenner verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) is deel van ʼn internasionale span wat ʼn nuwe plantvretende dinosourus in die Amerikaanse deelstaat Utah ontdek het.

Die dinosourus het vermoedelik in die middel van die Kryttydperk gelewe.

Dr. Ryan Tucker van die US se departement aardwetenskappe het meegewerk om die spesie, genaamd Iani smithi, te ontdek. Die navorsers het die grootste gedeelte van die jong dinosourus se skelet gevind. Dit sluit in die skedel, werwels en ledemate. Die opvallendste kenmerk is egter die kragtige kakebeen, met tande wat gemaak is om deur taai plantmateriaal te kou.

Prof. Lindsay Zanno, navorsingswetenskaplike aan die North Carolina State University en hoof van paleontologie by die North Carolina Museum of Natural Sciences, sê Iani smithi is uniek vanweë die skaarsheid daarvan in die Noord-Amerikaanse fossielrekord, asook oor sy posisie in dinosourusgeskiedenis.

As deel van die internasionale navorsingspoging, moes Tucker vasstel wanneer die fossiel in die rotsrekord opgeneem is en moes hy ook die omgewing waarin dit geleef het, herkonstrueer.

Tucker werk al byna ʼn dekade lank in die boonste lid van die Cedarberg-formasie, bekend as die Mussentuchit-lid, in Utah om klimaatsveranderinge te verstaan soos dit in die rotsrekord bewaar word.

Iani smithi is in die sedimentêre rots bewaar wat dui op ʼn oorgangsomgewing tussen die kuslyn en ʼn plat ekosisteem. Met ander woorde, vloedwaters wat die kuslyn bereik, sou fyn modder en klei inbring wat dan afsak en later in grond verander.

“Dit het die sediment verskaf wat nodig was om Iani en ander organismes wat gedurende dieselfde tydperk geleef het, te bewaar,” sê hy.

Dr. Ryan Tucker van die Universiteit Stellenbosch is deel van die span navorsers. (Foto: Verskaf)

Tucker probeer ook om ʼn tydraamwerk vir wanneer hierdie spesie geleef het, saam te stel. Hy het reeds vier asvalbeddings ontdek wat ʼn ongekende vlak van akkuraatheid volgens geologiese tyd toelaat. Hoewel dit skaars is, is vulkaniese asvalbeddings belangrik vir meer akkurate datering, aangesien dit in ʼn oomblik van geologiese tyd neergelê word en gewoonlik oor groot gebiede uitsak, wat vergelyking tussen streke moontlik maak.

Gegrond op sy navorsing en ontledings, word daar geraam dat Iani smithi omtrent 99,6 miljoen jaar gelede geleef het, en dat die hele Mussentuchit oor ʼn tydperk van rofweg 600 000 jaar deur sedimentêre prosesse gevorm is.

Volgens Zanno is dit moontlik dat Iani smithi dalk die laaste oorlewende lid van dinosourusse was wat eens in Noord-Amerika gefloreer het.

Tucker is van mening dat daar egter nog baie werk gedoen moet word om die presiese tydlyn van gebeure vas te stel.

“Verskeie nuwe dinosourusse moet nog vernoem en beskryf word, en ʼn skatkis van geologiese inligting wag nog om beskryf te word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.