Veldbrande dwing duisende in Kanada om te vlug

Een van die brande in Alberta, Kanada. (Foto: The Hotshot Wake Up/Twitter)

Duisende inwoners van Kanada moes die afgelope naweek uit hul huise vlug weens veldbrande wat onbeheerd in die weste van die land woed.

Nuwe bevele om te ontruim is Sondag uitgereik en burgers is gewaarsku dat hulle dalk enige oomblik sal moet vlug.

Die owerhede sê daar is tans meer as 100 aktiewe brande in die land en sowat 30 000 mense het reeds hul huise in Alberta verlaat weens die talle brande daar wat nog nie in bedwang gebring kon word nie.

Danielle Smith, premier van Alberta, het die situasie die naweek as “ongekend” beskryf en ʼn noodtoestand afgekondig.

“Ons het ʼn provinsiale noodtoestand afgekondig om die veiligheid, gesondheid en welsyn van al Alberta se inwoners te verseker,” het sy gesê.

Dié noodtoestand gee die plaaslike regering “meer magte om op uiterste situasies te reageer”, insluitend die mobilisering van bykomende hulpbronne en die ontsluiting van noodfondse.

Alberta, een van die wêreld se grootste olieproduserende streke, “het ʼn warm, droë lente gehad” en slegs ʼn paar vonke het “skrikwekkende veldbrande tot gevolg gehad”.

Volgens Smith is inwoners van meer as 20 gemeenskappe uit die gebied geneem en minstens 122 000 hektaar het tot dusver gebrand.

Drayton Valley, wat 7 000 inwoners het, was een van die gebiede wat ontruim is toe brandbestryders nie ʼn wegholbrand kon blus nie.

Colin Blair, hoof van noodbestuur in Alberta, sê dit is moeilik om eiendomsverliese in sommige gebiede te bepaal weens die “voortdurende rook- en brandtoestande”.

In Fox Lake, in die noorde van die provinsie, het ʼn massiewe brand 20 huise, ʼn winkel en ʼn polisiestasie vernietig. Sommige inwoners moes selfs per boot of helikopter uit die gebied gered word.

Christie Tucker, woordvoerder van Alberta se veldbrandagentskap, sê ligte verspreide reënbuie in die suidelike deel van die provinsie het brandbestryders Sondag toegelaat om gebiede wat voorheen onbereikbaar was te nader en brande te probeer blus.

Die toestande in die noorde van die provinsie bly egter steeds ʼn uitdaging.

“Ons prioriteite vandag was en is nog altyd wegholbrande wat gemeenskappe of menselewens bedreig,” sê Tucker.

Twee veldbrande in Brits-Colombië het reeds mense genoop om hul huise te verlaat terwyl brandbestryders spook om dit onder beheer te bring. Owerhede maan dat die windtoestande oor die volgende paar dae dié brande net sal vererger.

Die weste van Kanada het die afgelope paar jaar uiterste weerstoestande beleef.

Bosbrande in Kanada se oliesandstreek het in 2016 produksie ontwrig en 100 000 inwoners uit Fort McMurray gedwing. Dit was ook ʼn knou vir die land se ekonomie.

Meer onlangs, in 2021, het die westelike provinsie van Brits-Colombië tydens die somer rekordhoë temperature ondervind wat meer as 500 lewens geëis het. Wegholveldbrande het ook ʼn hele dorp vernietig.

Dit is gevolg deur verwoestende oorstromings en modderstortings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.