Verdagte in miljardêr-paar se moord geïdentifiseer   

Barry en Honey Sherman is vier jaar gelede vermoor. (Foto: Twitter / @UJAFederation)

Die Kanadese polisie in Toronto soek nou na ʼn persoon wat op die aand van ʼn miljardêr-egpaar se moord naby hul huis op veiligheidskameras opgemerk is.

Die ongeïdentifiseerde persoon is die eerste amptelike verdagte in Barry Sherman (75), ʼn farmaseutiese magnaat, en sy vrou, Honey, se moord op 13 Desember 2017.

Die wit-swart-beeldmateriaal van ʼn persoon wat op die sypaadjie stap verklap egter min van die verdagte, wie se teenwoordigheid in die omgewing as “hoogs verdag” deur polisie bestempel word.

Speurdersers. Brandon Price het die video Dinsdag tydens ʼn nuuskonferensie uitgereik en ʼn beroep op die publiek gedoen om met inligting vorendag te kom wat kan help om die persoon te identifiseer.

Volgens Price het die polisie het ’n groot hoeveelheid beeldmateriaal van veiligheidskameras in die woonbuurt nagegaan en ontleed, asook data van nabygeleë selfoontorings.

Die oorgrote meerderheid mense in dié beeldmateriaal kon egter as verdagtes uitgeskakel word.

’n Skermskoot uit die video.

“Ons sit met een individu wat ons nie kon identifiseer nie. Tydens ons ondersoek kon ons nie vasstel wat hierdie individu se doel in die buurt was nie.

“Die tydsberekening van die individu se verskyning stem ooreen met wanneer ons glo die moorde gepleeg is. Op grond van hierdie bewyse klassifiseer ons die persoon as ’n verdagte,” het Price gesê.

Price sê die verdagte is na raming sowat 1,67 m tot 1,7 m lank. Die manier waarop die persoon se regtervoet met elke tree opskop is ook kenmerkend.

Aangesien die verdagte ’n parka en ’n pet gedra het, kon die polisie egter nie die individu se geslag, ouderdom, gewig of velkleur bepaal nie.

Die slagoffers se dood is aanvanklik as ʼn moontlike moord-selfmoord ondersoek, maar daar is later bevind dat hulle albei verwurg is. Die egpaar is naby ʼn binnenshuise swembad in die kelder van hul huis aangetref waar hulle half sittend gehang het.

Forbes het Sherman se fortuin op $3,2 miljard (meer as R51 miljard) beraam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Francois ·

Is die persoon nou geidentifiseer of nie? Die opskrif sê hy /sy is, maar die hele berig sê hy /sy is nog nie…. Lees ek iewers iets mis?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.