Verkeerde Liz Truss(el) laat Twitter gons

Liz Trussel. (Foto: Twitter)

ʼn Doodgewone Twitter-gebruiker met die naam Liz Trussel het oornag bekendheid verwerf nadat verskeie gebruikers, ook Swede se eerste minister, Trussel onder meer met haar nuwe rol as Brittanje se eerste minister gelukgewens het.

Gebruikers het Trussel se gebruikersnaam op Twitter, @Liztruss, met dié van die nuutverkose eerste minister, Liz Truss, verwar.

Truss se gebruikersnaam op dié sosialemediaplatform is @trussliz aangesien die @Liztruss-gebruikersnaam jare gelede reeds opgeraap is.

Trussel word sedert Truss se aanwysing met boodskappe, gelukwensings en selfs kritiek, wat eintlik vir Truss bedoel is, oorval.

Die deurmekaarspul, en ook Trussel se skerp reaksie daarop, het egter vir groot vermaak op Twitter gesorg.

Magdalena Andersson, Swede se eerste minister, was onder dié wat Trussel verkeerdelik gelukgewens het.

Liz Truss, Brittanje se eerste minister. (Foto: Daniel Leal / AFP)

“Geluk aan Liz Truss. Swede en Brittanje sal ons noue en omvattende samewerking voortsit,” het sy geskryf.

In antwoord hierop het Trussel gesê: “Ek sien uit na ʼn besoek binnekort. Kry solank die frikkadelle reg.”

Caroline Lucas, parlementslid in Brittanje en leier van die Green Party, het Truss in ʼn twiet as ʼn “regse ideoloog” uitgekryt en voorspel dat haar ampstermyn “rampspoedig vir ons almal sal wees”.

Lucas het later om verskoning gevra en bygevoeg dat Trussel die “land waarskynlik beter sal lei”.

“Ek’s in! Vegas vir almal,” het Trussel op Lucas se boodskap geantwoord.

In nog ʼn twiet is Truss gekritiseer oor sy nie voor haar oorwinningstoespraak met haar mededinger, Rishi Sunak, bladgeskud het nie.

“Jammer, ek was by Nando’s,” het Trussel vinnig teruggekap.

Haar pittige en skerp reaksies het die harte van vele gebruikers verower.

“Petisie om @Liztruss in plaas van @trussliz as eerste minister aan te wys,” het plaaslike politikus Matt Dent op Twitter geskryf.

Nog ʼn plaaslike politikus, Jake Graham, het getwiet dat Trussel soos ʼn lieflike mens lyk en Truss moet vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.