Vermiste Israel-tiener dood aangetref in Wesoewer

Israeli-setlaars op ʼn koppie wat oor Mughayir naby Ramallah in die Israeli-besette Wesoewer uitkyk (13 April 2024) (Foto: Jaafar Ashtiyeh/AFP)

ʼn Vermiste tiener van Israel is Saterdag dood aangetref in die besette Wesoewer. Eerste minister Benjamin Netanyahu het dit as ʼn “gruwelike moord” beskryf.

ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur toe die 14-jarige Benjamin Achimeir Vrydag verdwyn het. Dit het ook tot aanvalle op Palestynse dorpe gelei.

“Die gruwelike moord op die seun … is ʼn ernstige misdaad,” het Netanyahu in ʼn verklaring gesê.

Achimeir het Vrydagoggend uit die Malachi Hashalom-buitepos naby Ramallah verdwyn. Sy liggaam is daar naby gevind, het die Israelse weermag en veiligheidsmagte gesê.

Honderde duisende Israeli’s woon in Wesoewer-nedersettings wat as onwettig beskou word onder internasionale wetgewing.

Die voorval kom terwyl spanning reeds hoog is weens die Israel-Hamas-oorlog in Gaza.

Israelse veiligheidsmagte en honderde vrywilligers het ná Achimeir se verdwyning ʼn soektog van stapel gestuur. Joodse setlaars, wat deel was van die soektog, het Vrydagmiddag ʼn klopjag uitgevoer op Al-Mughayyir naby Malachi Hashalom, aldus ʼn AFP-verslaggewer.

Minstens een persoon is dood en 25 beseer, het die Palestynse ministerie van gesondheid Vrydag gesê. Die amptelike Palestynse nuusagentskap het oornag berig dat vyf Palestyne in nóg ʼn setlaar-aanval in Abu Falah naby Ramallah beseer is.

Oorlogdodetal op 33 686

Die gesondheidsministerie in die Hamas-beheerde Gaza het intussen Saterdag gesê minstens 33 686 mense is dood in die gebied gedurende die meer as ses maande van oorlog tussen Israel en Palestynse militante.

Die dodetal sluit minstens 52 sterftes in die afgelope 24 uur, aldus ʼn verklaring deur die ministerie. Sowat 76 309 mense is in die Gaza-strook beseer sedert die oorlog uitgebreek het toe Hamas-militante Israel op 7 Oktober aangeval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.