Vermiste vlug MH370: Dekade later wonder geliefdes steeds

Die verdwyning van die Malaysia Airlines-vliegtuig en die 239 mense aan boord bly ná tien jaar steeds ʼn raaisel. ʼn Beroep word nou gedoen om die soektog na die vermiste vlug MH370 te hervat. (Foto: Arif Kartono / AFP)

ʼn Dekade nadat vlug MH370 van Malaysia Airlines spoorloos verdwyn het, wonder geliefdes van die 239 mense aan boord steeds wat van hulle geword het. Hernude oproepe is nou gedoen om die soektog na die vliegtuig te hervat, want sonder antwoorde kan daar ook nie berusting wees nie.

Vlug MH370, ʼn Boeing 777-vliegtuig, het op 8 Maart 2014 van radarskerms verdwyn terwyl die vliegtuig van Kuala Lumpur na Beijing onderweg was.

Die voorval het aanleiding gegee tot die grootste soektog in lugvaartgeskiedenis. Nóg die vliegtuig nóg enige insittende is ooit gevind. In 2023 het die stromingsdiens Netflix ʼn dokumentêr, MH370: The plane that diasappeared, vrygestel.

Die dokumentêr het verskeie moontlike teorieë uitgelig oor wat van die vliegtuig kon geword het, terwyl roerende onderhoude met sommige passasiers se geliefdes gevoer is.

Sowat 500 familielede en hul ondersteuners het Sondag by ʼn winkelsentrum naby die Maleisiese hoofstad Kuala Lumpur bymekaargekom om opnuut aandag op die voorval te vestig en hul geliefdes te herdenk. Ná tien jaar was die hartseer waarmee hierdie families saamleef, tasbaar.

Hulle het 239 kerse aangesteek, een vir elke passasier aan boord van vlug MH370.

Sommige familielede het van China gereis, waar byna tweederdes van die getal passasiers van die gedoemde vlug vandaan kom.

“Die afgelope tien jaar was ʼn onophoudelike tuimeltreinrit,” het Grace Nathan, ʼn 36-jarige Maleisiese prokureur, gesê. Haar ma, Anne Daisy (56), was op die vlug.

Sy het met die skare gepraat en ʼn beroep op die Maleisiese regering gedoen om ʼn nuwe soektog te doen.

“MH370 is nie geskiedenis nie,” het sy gesê.

Liu Shuang Fong (67) van China se Hebei-provinsie, het haar 28-jarige seun, Li Yan Lin, ook ʼn passasier op die vliegtuig, verloor.

“Ek eis geregtigheid vir my seun. Waar is die vliegtuig?” het Liu, wat vir die geleentheid na Maleisië gevlieg het, gesê.

“Die soektog moet voortgaan.”

Die vervoerminister, Anthony Loke, het aan verslaggewers gesê “wat Maleisië betref, is die regering daartoe verbind om die vliegtuig te vind … koste is nie die kwessie nie”.

Hy het aan familielede by die byeenkoms die onderneming gegee dat hy met amptenare van die Texas-gebaseerde mariene eksplorasiemaatskappy Ocean Infinity sal vergader om ʼn nuwe soektog te bespreek. Ocean Infinity het voorheen al met ʼn soektog gehelp, maar dit was onsuksesvol.

“Ons wag nou vir hulle om geskikte datums te verskaf en ek hoop om hulle binnekort te ontmoet.”

Ocean Infinity se soektog in 2018 het geëindig nadat hulle maande lank op die seebodem na die vermiste vliegtuig gesoek het.

’n Vroeëre soektog deur Australië, wat 120 000 vierkante kilometer (46 000 vierkante myl) in die Indiese Oseaan beslaan het, het skaars ʼn spoor van die vliegtuig gevind. Enkele wrakstukke, moontlik dié van vlug MH370, is wel gevind.

Die verdwyning van die vliegtuig is lank reeds die onderwerp van ʼn magdom teorieë en bespiegelings. Sommige teorieë is geloofwaardig, terwyl ander baie vreemd is.

Sommiges wys vinger na die vlieënier, terwyl ander weer oortuig is dat die Amerikaanse en Russiese regerings dalk iets met die verdwyning te doen gehad het.

ʼn Finale verslag oor die tragedie, wat in 2018 bekend gestel is, het gewys op lugverkeerbeheerfoute en het gelui dat die koers van die vliegtuig met die hand verander is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nefie ·

Ek volg hierdie al lankal en het baie dokumentêre gekyk.
Gaan kyk op YouTube en soek Green Dot Aviation se kanaal.
Hulle dokumentêr “What Netflix got WRONG – Malaysian Flight 370” is die beste en gee vir my die beste subjektiewe oorsig.

Niklaas ·

Dis een baie tergende vraagstuk hierdie…waar is daai vliegtuig ? Maar die oseane is wyd en diep. Vir die arme familielede het ek baie simpatie. Geen kans op klaring. Dit moet vreeslik wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.