Verpleegster wat pasiënte vergiftig, gevonnis

Ayumi Kuboki (Foto: konniemoments1, Twitter)

’n Verpleegster is Dinsdag in die Yokohama-distrikhof in Japan tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklag van moord nadat sy drie pasiënte vermoor het. Sy het ontsmettingsmiddels in dié pasiënte se binne-aarse voedingsbuise gesit.

Die 34-jarige Ayumi Kuboki het tydens haar verhoor erken dat sy die pasiënte vyf jaar gelede vermoor het. Die pasiënte was in hul 70’s en 80’s.

Sy het aanvanklik teenoor die polisie erken dat sy “moontlik” 20 mense oor ʼn tydperk van twee maande doodgemaak het, maar het dit tydens die verhoor ontken.

Aanklaers het die doodstraf vir Kuboki geëis, en die regter het dit aanvanklik oorweeg, maar eindelik daarteen besluit.

“Sy het gesê sy is spyt oor haar dade en wil vir haar misdade betaal. Daar is ʼn kans dat sy sal verander en daarom het ek gehuiwer om ’n doodsvonnis te gee,” het die regter gesê.

Kuboki se regsverteenwoordiger het boonop aangevoer dat sy aan depressie ly weens stres oor die dood van haar pasiënte.

Kuboki het in die hof gesê sy het “verlig” gevoel toe een van die slagoffers dood is. Sy wou ook nie dat familielede haar blameer indien iets verkeerd gaan met haar pasiënte terwyl sy aan diens is nie, daarom dat sy dit só beplan het dat die pasiënt eers sou sterf wanneer haar skof verby is.

Die seun van een van die slagoffers het aan plaaslike media gesê hy is nie tevrede met die uitspraak nie.

“Dit is verkeerd dat sy nie die doodstraf gekry het nie, want sy het onskuldige mense vermoor weens selfsugtige redes,” het die seun gesê.

Japan, waar meer as 100 gevangenes in die dodesel wag om tereggestel te word, is een van die min ontwikkelde lande wat steeds die doodstraf toepas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerhard ·

En ons sal ‘n ou met n paar moorde en verkragtings op sy kerfstok he behuising met kos gee en hom verder ook nog n kans gee om te studeer of om opleiding te ontvang dat as hy eendag uitkom dat hy in die sameleweing kan inpas. Wat kry die slagoffers. Dit alles van rehabilitasie en mesen regte en iemand nog n kans gee teen slagoffers en hul families wat GEEN ondersteuning kry nie.

Ons kan baie leer by Japan.

katerinadiekat ·

Ek voel dat die meeste mense wat gevangenis straf uitdien, wel opleiding behoort te ontvang sodat hul kan probeer om n eerlike bestaan te maak wanneer hul tronkstraf verby is. Maar NIE moordenaars nie. Ook nie kinder verkragters en pedofiele nie. In my opinie is die doodstraf al wat goed is vir hulle.

Blomme ·

Dan is dit hoogtyd dat dié onderontwikkelde land ook sy regstelsel in orde moet kry en die doodstraf inbring. Japan se misdaad is nie eens naastenby soos hier nie. SA moet minder soos ń ontwikkelde land wil voorkom en liewer begin om sy huiswerk in orde te kry.

Esme ·

Kan ons nie ook ons verpleeg personeel monitor nie? Aarde, ek was in Desember/Januarie in ‘n privaat kliniek en glo my, baie opleiding is nog nodig en ek het besef dat een swaeltjie nie ‘n somer maak nie. Dink pasiente moet verpleegpersoneel se inkomstes bepaal – miskien sal pasiente dan beter versorg word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.