Veteraanakteur, ‘Little Fires’-regisseur sterf

Fred Willard. (Foto: John Salangsang/Invision/AP, File)

Die komedie-akteur Fred Willard is Vrydag in die ouderdom van 86 in Los Angeles, VSA, dood. Hy was langer as 50 jaar in die vermaakbedryf en bekend vir sy rolle in flieks soos This is Spinal Tap, Best in Show en Anchorman.

“Hy het aanhou beweeg en bly werk en ons tot aan die einde vreugde gebied. Ons het hom so lief gehad en sal hom mis,” het Hope Mulbarger in ʼn verklaring gesê.

Willard is vier keer vir ʼn Emmy benoem: vir sy rolle in What’s Hot, What’s Not, Everybody Loves Raymond, The Bold and the Beautiful en die ABC-komediereeks Modern Family, waarin hy die rol van Frank Dunphy, Phil se lawwe pa, vertolk het. Dié reeks het onlangs na 11 seisoene tot ʼn einde gekom.

Medelye stroom uit alle oorde in. “Fred Willard is die snaaksste persoon met wie ek nog ooit saam gewerk het,” het akteur Steve Carell gesê.

“Hoe gelukkig is ons dat ons Fred Willard se gawes kon geniet,” het aktrise Jamie Lee Curtis gesê.

Willard se vrou, Mary, is in 2018 op 71 oorlede.

Lynn Shelton. (Foto: Danny Moloshok/Invision/AP, File)

Intussen rou Hollywood ook oor die skielike dood van die regisseur Lynn Shelton. Sy is Vrydag dood aan ʼn ongeïdentifiseerde bloedsiekte. Sy was 54 jaar oud.

Shelton was die regisseur van die dramareeks Little Fires Everywhere, wat onlangs op Hulu uitgesaai is met Reese Witherspoon en Kerry Washington in die hoofrolle.

Hoewel sy bekend was vir haar onafhanklike rolprente soos Your Sister’s Sister en Humpday, het sy ook aan groot produksies soos Mad Men, Fresh off the Boat, The Mindy Project en GLOW gewerk.

Shelton se medewerker en lewensmaat, Marc Maron, het in ʼn verklaring gesê dokters het gespook om Shelton se lewe te red en het bevestig sy het nie aan Covid-19 gesterf nie.

“Sy was ʼn pragtige, vriendelike, liefdevolle, charismatiese kunstenaar. Haar gees was pure vreugde. Sy het my gelukkig gemaak. Ek het haar gelukkig gemaak. Ons was gelukkig. Ek het haar die hele tyd laat lag. Ons het baie gelag,” het Maron gesê.

Bronne: African News Agency, Deadline.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VannieBaai ·

Sjoe…….ek het vanoggend die laaste episode van “Little fires everywhere” gekyk. Dit was ‘n wonderlike storie gewees. R I V Lynn Shelton.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.