Video: Airbus in vlamme op Tokio-aanloopbaan

(Skermgreep: NHK)

ʼn Vliegtuig van Japan Airlines was Dinsdagoggend in vlamme op ʼn aanloopbaan van Tokio se Haneda-lughawe nadat dit vermoedelik met ʼn vliegtuig van die kuswag gebots het.

Plaaslike TV-nuuskanaal NHK het gewys hoe die vliegtuig op die aanloopbaan beweeg, voor dit deur ʼn oranje vuurbal omring word.

Al 367 passasiers aan boord van die Airbus-vliegtuig is na veiligheid geneem, het NKH berig. Daar kan in hierdie stadium egter steeds nie rekenskap gegee word van vyf mense aan boord van die Japannese kuswag-vliegtuig nie.

Hoewel die oorsaak van die voorval nie dadelik bekend was nie, is die bewering dat die Airbus en die kuswag-vliegtuig gebots het.

Luidens berigte het die vliegtuig pas van die Sapporo-lughawe, op die noordelike Japannese eiland Hokkaido, aangekom.

ʼn Kuswag-amptenaar by die Haneda-lughawe, een van die wêreld se besigste, het gesê hulle is nog besig om “besonderhede na te gaan”.

“Dit is nie duidelik dat daar ʼn botsing was nie. Maar daar is sekerheid oor die feit dat ons vliegtuig betrokke is,” het hy gesê.

Die TV-beeldmateriaal wys hoe vlamme uit die vensters en die vliegtuig se neus op die grond kom terwyl reddingswerkers die brand probeer blus. Daar was ook brandende puin op die aanloopbaan.

Meer as 70 brandweerwaens is na die toneel gestuur, het NHK berig.

Japan het in jare geen ernstige kommersiële lugvaartongeluk gehad nie.

Die ergste voorval in die land se geskiedenis was in 1985, toe ʼn JAL-jumbostraler van Tokio na Osaka in die Gunma-streek neergestort het. Al 520 mense aan boord is dood. Die voorval word ook beskou as een van die wêreld se ergste vliegongelukke waarby net ʼn enkele vlug betrokke is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maya ·

Die mees gedissiplineerde nasie in die wêreld en hier kan jy dit duidelik sie. Geen gegil en histerie nie. Net die lugwaardin se duidelike instruksies kan gehoor word. Merkwaardig!

Danie ·

En na al die jare se hoogs gevorderde tegnologie kan n vliegtuig steeds nie van nie-vlambare materiaal gebou word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.