Video: Daar’s (weer) ʼn olifant in die kombuis!

Die olifant het Sondag net ná middernag sy kop deur die opening van die kombuismuur gesteek om met sy slurp ’n versnapering te kry (Foto: Skermskoot)

ʼn Olifant in Thailand het nuwe betekenis gegee aan die sêding: “Daar is ʼn olifant in die kamer.”

’n Video van ’n olifant wat in ’n egpaar se kombuis in Thailand rondskarrel en kos soek, het sosialemediagebruikers behoorlik aan die gons.

Volgens Kittichai Boodchan is dit nie die eerste keer wat dié olifant ’n besoek aan hul kombuis aflê nie. Die ongenooide besoeker het reeds ’n maand gelede hul kombuismuur gebreek en só ’n “oopplankombuis” gevestig waar hy dan en wan inloer.

Die olifant het Sondag net ná middernag sy kop deur die opening van die kombuismuur gesteek om met sy slurp ’n versnapering te kry. Die Boodchan-egpaar het die olifant se manewales afgeneem en die video op sosiale media gedeel.

“Hy het alweer kom kos maak,” skryf Boodchan in die onderskrif by die video.

In die video wys dit hoe die olifant met sy slurp in een van die kombuiskaste vroetel. Hy tel dan ’n plastieksak vol vloeistof met sy slurp op en steek dit in sy bek.

Die Boodchan-egpaar woon naby ’n nasionale park in die weste van Thailand en was onverstoord deur dié reusagtige soogdier se besoek omdat hy gereeld by huise by die park inloer. Hy soek gewoonlik iets om te peusel.

Volgens Boodchan loop die olifant gewoonlik wanneer hy nie kos kry nie. Hulle gee nooit vir hom kos nie.

Wilde olifante is baie algemeen te sien in Thailand se nasionale parke en omliggende gebiede. Boere kla ook gereeld dat hulle hul vrugte en mielie-oeste vreet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sandra ·

Ek hou van die manier dat hulle dit net gelate aanvaar en nie probeer om die olifant weg te jaag nie ondanks die skade wat hy alreeds aangerig het. En dat hy nogals weet waar om vir die kos te soek is so slim en oulik. Hulle bly naby die park, so hulle aanvaar dit as algemeen. Ek haal my hoed af vir hulle.

Misky ·

Gelukkig vir daai Ollie is hy in Thailand en nie SA nie. Hier skree hulle hy is ‘n wilde dier en bedreiging vir die samelewing en word sommer geskiet. Kyk maar so tydjie terug in Phalaborwa en wou hulle die olifant skiet wat in die mense se tuin was. Ek dink dis dierbaar!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.