Vier kinders ná 40 dae in Colombiaanse Amasone gered

Een van die vier kinders wat gered is. (Foto: Juan BARRETO/AFP)

Vier kinders is ná 40 dae in die Amasone-reënwoud in Colombia gered nadat ʼn vliegtuigongeluk die lewe van hul ma en nog twee volwassenes geëis het.

Die vier kinders is Saterdag met hul familie herenig nadat hulle vir langer as ʼn maand alleen in die oerwoud rondgedwaal en uiteindelik ná ʼn uitgebreide reddingsoperasie waarby snuffelhonde, helikopters en vliegtuie betrokke was, gevind is.

Volgens AFP-joernaliste op die toneel het hulle maer en broos gelyk, en is die kinders met ʼn lugambulans van die weermag na ʼn militêre hospitaal in Bogota vervoer. Pres. Gustavo Petro het die kinders saam met die minister van verdediging, Ivan Velasquez, in die hospitaal besoek. Hulle herstel goed, maar sukkel nog om vaste kos in te neem.

Genl. Pedro Sanchez, wat die soektog gelei het, het die inheemse mense wat by die reddingspoging betrokke was, geloof vir die opspoor van die kinders.

“Ons het die kinders gevind: wonderwerk, wonderwerk, wonderwerk!” het hy aan verslaggewers gesê. Die Amasone-reënwoud in Colombia is die tuiste van jaguars, slange en ander roofdiere, asook gewapende dwelmsmokkelgroepe.

Die jongste twee kinders, nou vyf en een, het hul verjaarsdae in die oerwoud gevier saam met hul ouer sibbe, onderskeidelik nege en 13. Die kinders was sedert 1 Mei vermis nadat die Cessna 206 waarin hulle gereis het, neergestort het.

Die vlieënier het enjinprobleme aangemeld minute nadat die vliegtuig opgestyg het. Die liggame van die vlieënier, die kinders se ma en ʼn plaaslike inheemse leier is op die ongelukstoneel gevind.

ʼn Reusesoektog waarby 160 soldate en 70 inheemse mense met uitgebreide kennis van die oerwoud betrokke was, is ná die ongeluk van stapel gestuur en het wêreldwyd aandag getrek. Daar is tydens die soektog duisende strooibiljette in die woud gegooi met aanwysings in Spaans en die kinders se eie inheemse taal waarin hulle versoek is om nie te ver van die ongelukstoneel af te dwaal nie. Die pamflette het ook oorlewingswenke ingesluit, en die weermag het kospakkies en gebottelde water laat val. Die kinders is sowat vyf kilometer van die ongelukstoneel gevind.

Die soektog is egter nog nie heeltemal verby nie. Die weermag het Saterdag aangekondig hulle sal voortgaan om na Wilson, ʼn reddingshond wat tydens die soektog vermis geraak het, te soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dana ·

Prys die Here dat die kinders gevind is. Mag Wilson ook lewend gevind word.

ES ·

Sjoe, hulle is baie baie gelukkig om te kon oorleef! Baie tragies oor die oorledenes maar darem het die kinders oorleef!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.