‘Vliegveld’ op Mars na Afrikaanse ingenieur vernoem

Dr. Japie van Zyl (Foto: NMMU)

Die internasionale ruimtemaatskappy Nasa verwag om vroeg volgende maand die eerste helikopter op Mars te vlieg.

CNN berig die “vliegveld” op Mars, waar dié historiese gebeurtenis sal plaasvind, is vernoem na die Namibiese ruimteman dr. Japie van Zyl wat in Augustus verlede jaar weens ’n hartaanval oorlede is. Van Zyl het kort voor sy dood uitgetree by Nasa JPL in Pasadena, Kalifornië.

Die taamlike klein helikoptertjie genaamd Ingenuity weeg sowat 1,8 kg en is net meer as ’n maand gelede met die Perseverance-verkenningstuig na die Rooi Planeet vervoer.

Nasa beoog dat Ingenuity teen 8 April vir die eerste keer op Mars probeer vlieg. Sou Ingenuity dit regkry, sal dit ’n tipe van Wright Brothers-oomblik verteenwoordig, sê die ruimtemaatskappy.

Nasa verwys na Orville en Wilbur Wright wat in 1903 die eerste vliegtuig genaamd Flyer 120 vir 12 sekondes in die Amerikaanse deelstaat Noord-Carolina laat vlieg het.

’n Stukkie materiaal wat destyds een van die vlerke van die Wright-broers se vliegtuig Flyer 120 bedek het, is nou aan ’n kabel onder Ingenuity se sonpaneel vasgemaak.

Voordat Ingenuity sy eerste historiese vlug op Mars kan aanpak, moet dié helikoptertjie se vermoë om die toestande van Mars sonder Perseverance se hulp te verduur, egter eers getoets word. Ingenuity is in dié stadium nog onder aan Perseverance vasgeheg hoewel die skild wat die helikoptertjie tydens dié tuig se landing beskerm het, reeds oor die naweek vrygelaat is.

Ingenuity sal oor die komende dae stadig tot op Mars se oppervlakte laat sak word, berig BBC.

Die Perseverance-verkenningstuig is tans onderweg na die nabygeleë vliegveld, vernoem na Van Zyl, waar die helikopter se vliegvermoëns volgende maand getoets sal word. Die vliegveld is sowat 10 m by 10 m groot.

Die Perseverance-verkenningstuig sal Ingenuity op die oppervlak neersit, stadig wegbeweeg en dan hopelik die gebeurtenis op kamera kan vasvang. Die hele proses sal ses dae duur.

“Ons gaan foto’s neem en hoop om video’s te neem,” sê Farah Alibay, ’n ingenieur by Nasa.

Volgens Alibay gaan dit egter uitdagend wees aangesien die verkenningstuig en die helikopter albei onafhanklik funksioneer en afsonderlike horlosies het. Die tydtoestelle moet dus gesinchroniseerd wees om die aksie op kamera vas te lê.

Ingenieurs sê die eerste vlug sal ’n eenvoudige vlug wees. Ingenuity sal tot ongeveer 3 m bo die grond styg en ongeveer 30 sekondes swaai en draai, voordat dit weer sal land.

Sou alles goed verloop, sal daaropvolgende vlugte natuurlik meer ingewikkeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Reynier ·

Hahaha, die anc en eff kry seker nou ‘n kramp in hulle agterstewe omdat ‘n Afrikaner internasionale oftewel in die heelal erkenning kry. Ons is mos die duiwel se kinders volgens hulle.

Eiervrug ·

Dank Vader dis ‘n Namibiër. Indien dit ‘n Suid Afrikaner was het hulle seker al reeds begin met die proses om die naam te verander…..

Aikie ·

Ek hoop uit my hart dat die choppertjie regtig kan vlieg in die super dun atmosfeer van Mars. Ek hou duime vas.

groenboer ·

Ja, ek verwonder my ook nogal aan die idee om ‘n helikopter in daardie byna-vakuum te vlieg!

ameli ·

God sê in Sy skrif Hy gee die aarde vir die mens om te bewerk en te bewoon. Nou vir wat wil die mens na n ander planeet gaan, (weet hulle ooit self waarna hul soek).

Stefan ·

Maar dan kon hy mos maar gekeer het dat hulle op Mars uitkom.

Pieter ·

Die Here het die hele Heelal vir ons gemaak met alles daar op en binne. Ons moet daarna omsien so goed ons kan en dit verken en daaroor wonder… Ons is soos Hy en daarom wil ons dit verken… Al gaan ons nie in hierdie lewe dit doen nie, sal ons sekelik in die volgende lewe dit kan beleef… Dit is wat ek glo…

Hendrik ·

Japie van Zyl het natuurlik sy graad in Elektroniese Ingeneurswese verwerf te Universiteit van Stellenbosch en dit nogal in Afrikaans. Goeie nalatenskap van Japie van Zyl en baie mooi van JPL om hom op hierdie wyse te vereer.

Stefan ·

Ja, toe hulle nog bereid was om te betaal vir Universitaire opleiding.

Cherokee ·

Hierdie helikopterjie sal vanaf Venus dopgehou word, en daar sal bespiegel word oor hou klein die aardse wesens werklik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.