Vrae oor 5 liggame in Maryland-huis

(Foto via ABC News)

’n Huiseienaar van die Amerikaanse deelstaat Maryland het onlangs van die werk af teruggekeer en vyf mense dood in sy huis gevind. Daar word vermoed dat ’n man sy eksmeisie en haar familielede in die huis doodgeskiet het voordat hy die vuurwapen op homself gerig het. Dit is nie duidelik hoe die huiseienaar met die verdagte en sy slagoffers verbind word nie.

Die sheriff van Charles County se kantoor sê in ’n verklaring polisiebeamptes is Vrydag kort voor 16:00 na die huis in La Plata ontbied, waar hulle met hul aankoms die eienaar van die huis by die voordeur aangetref het. Dié het pas van die werk af teruggekeer en op die liggame van twee vroue en drie mans in sy huis afgekom.

Voorlopige ondersoek dui daarop dat die 28-jarige Andre Sales die betrokke huis binnegegaan en sy eksmeisie, Sara Mannhaar (21), haar broer, Kai Mann (18), hul ma, Sommaly Mann (48), en nóg ’n man, die 23-jarige Javon Watson, doodgeskiet het.

Sales het homself skynbaar daarna om die lewe gebring. Sales het nié in die huis gewoon nie.

Twee kinders, wat met die slagoffers verbind word en aanvanklik vermis was, is kort daarna ongedeerd by ’n ander huis gevind, berig ABC News.

Die presiese omstandighede rakende die moorde is nie in dié stadium duidelik nie.

Volgens CNN sê die Amerikaanse owerhede dat nadoodse ondersoeke uitgevoer sal word om die oorsaak van elke slagoffer se dood te bepaal. Ondersoekers voer intussen onderhoude met familie en vriende van die oorledenes om ’n motief vir die moorde vas te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.